Ek het met groot afwagtig uitgesien na ons besoek aan Moholoholo; al baie van die plek gehoor, en wou dit vreeslik graag sien; maar ek het nadese maar gemengde gevoelens, en ek sal dit met julle deel.
Dit is 'n rehabilitasie sentrum vir diere wat bv. beseer is in lokvalle, kraglyne, ens. Die oom op die foto is die eienaar - 'n Brian Something; glo 'n groot gees in natuurbewaring in die Hoedspruit streek. Daar is pragtige diere, en die feit dat meeste van hulle al redelik mak geword het maak dit maklik om naby hulle te kom; veral vir die kinders. Jan-Hendrik het dit vreeslik geniet.
Maar die Brian ou het eers vir 'n uur lank met ons gepraat oor die huidige stand van sake, en dit was net depressiewe doom & gloom. Ek het nog nooit so 'n negatiewe mens teegekom nie, en hy het dit reggekry dat ek gevoel het dat ek nie verder die sentrum wou toer nie.
Ek wou hom op 'n stadium vra of hy enige oplossings, in plaas van net kritiek het; maar toe hou ek myself terug. Ons almal weet dat die mens die natuur onder druk plaas, maar wat kan mens doen - ons het tog piesangs, suiker, ens. nodig om te oorleef!!! Dis mos nie 'n slegte ding nie... En as ek so na hom kyk gebruik hy ook so bietjie suiker, dop en rooivleis; so hy is maar net so deel van die probleem as die res van ons.
Maar in elk geval, pragtige diere!! Kyk!!
Hierdie aasvoël het vir die een of ander rede oorlog verklaar met hierdie Aussie se broek; eintlik 'n gat in die ou se broekspyp gebyt...
Big Boy is die leeu mannetjie; famous op die internet; kyk bietjie op youtube. Eintlik was sy leeuwyfie heelwat groter as hy. Hulle was onwettig mak groot gemaak op iemand se kleinhoewe totdat die mense besef het dat hulle te groot geword het om te hanteer. Ook maar 'n lekker stupid ding om te doen...
Die luiperd is gerehabiliteer nadat hy in 'n lokval gevang is op 'n boer se plaas. Hy sit ewe mak teen die draad sodat mens sy kop kan vryf. Maar niemand wou nie; ek wonder hoekom...
Daar was 'n paar wilde honde; ook op 'n boer se plaas gevang.
Hulle het hierdie swart renoster as 'n babatjie ontvang om groot te maak nadat sy ma hom weggegooi het... baie mak. Sy vel voel soos ou leer, en hy het 'n vreeslike momentum, maar so rustig soos 'n ou hond op die stoep in die son.
Die jagluiperds het my egter so bietjie bang gehad. Die ouer wyfie het baie skielik op Jan-Hendrik gefokus, en mallerig heen-en-weer langs die draad gehardloop en selfs een keer hoog teen die draad opgespring om by die kinders uit te kom. Ons het onsself maar vinnig skaars gemaak.
Ek dink Sussa was ook bietjie bang vir daai groot kollerige hond-kat-ding...
Ons het hierdie arend (Bateleur) soos 'n pappegaai oor die kop vryf; so mak... eintlik so bietjie sad, nie waar nie?
Dit is 'n lekker plek, met mooi diere, met noue ontmoetings, maar met moeilike argumente. Ek sal dalk weer gaan as Jan-Hendrik en Lana so bietjie ouer is. Dit het amper vir my gevoel soos 'n besoek aan die kankersaal, 'n weeshuis, of so iets...