Ek is dus nou verplig om redelik vinnig my huis te verkoop. Ek het hierdie fotos geneem sou ek moet die huis oorhandig aan 'n eiendomsagent, maar ek het besluit om dit op my blog te sit as herinnering aan fantastiese tye in die Laeveld.
Die oprit na ons huis toe. In 2006 het ons die hele ou houtheining rondom die erf afgebreek en vervang met 'n hoë muur met 'n formele voordeur wat die huis verbind oor 'n houtpaadjie deur die tuin.
Ek het vroeër die jaar die een garagedeur groter gemaak om plek te maak vir die karavaan. Die hek aan die linkerkant het ek laat bou in 2006. Die hout is alles herwin met die afbreek van die ou houtheining. Hier ry Jan-Hendrik met sy fiets, en vlieg met sy helikopters (tot binne in die buurman se erf).
Die stoep se dak (slab) het ons gebou in 2007. Dit is dalk die enkele bouprojek wat die meeste bygedra het om hierdie huis 'n lekker leefhuis te maak. Op die stoep (waar ek ook nou sit en blog) het mens 'n ware vakansie atmosfeer, winter en somer. Hier sit ek gereeld met my verkyker en kyk na al die mooi voëls in my tuin.
My goeie en getroue braaier. Baie tyd het ons saam gespandeer. Vroeër die jaar het ek vir die braaier 'n extractor ingesit wat werk soos 'n bom. Die kole is nou selfs vinniger gereed vir braai.
My pragtige huis van voor af. Die swembad is toe vir die kinders. Die swembad is oorgedoen in 2011, en daarmee saam het ons die hele tuin voor rondom die swembad gerehabiliteer.
Die tuin en huis aansig vanaf die Weste kant. Ek het vroeer die jaar drie groot JoJo tenks opgesit waarmee ek heelwat van die reënwater opvang vir die tuin. Die hoofslaapkamer het deure na buite (bo) met die plan om hier nog 'n dek te bou waar mens na die voëltjies kan sit en kyk.
Hier het ek baie ure gespandeer om vir my kinders die mooiste jungle gym in Nelspruit te bou. Hulle (veral Jan-Hendrik) het my gehelp spykers inslaan en hout skaaf. 'n Groot deel van my hart en siel is in hierdie projek vasgevang.
Die dek wat ek en my skoonpa en sy skoonpa (Oupa Wes) in 2008 gebou het. Marinda was daardie tyd swanger met Jan-Hendrik. Op die hoek, links bo op die foto, het Oupa Wes gedog hy's jonk, oor 'n houtbalk probeer spring en grond gekoop. Daar lê nog steeds honderde skroefies onder die dekplanke. Dit was 'n heerlike ervaring om dek te bou saam met skoonpa en skoonoupa.
Ons TV kamer (eintlik 'n sitkamer). Ek het in 2005 die houtblokkies vloer met eie hande, rug en sweet afgeskuur. Dit is een van die mooiste features van hierdie huis. Ek gaan my houtvloere vreeslik mis eendag.
Nog 'n sitkamer / kuierkamer. Kyk hoe mooi is my houtvloere!!! Op hierdie vloer het oorle Victor (boerboel) in 2007 (dink ek) die Griek Simos (my Pa se besoekende kollega) aangeval en stukkend gebyt - eers op die hand, toe op die linker boud, en toe op die regter boud. Retrospektief was dit eintlik nogal snaaks, maar daardie aand het niemand gelag nie, glo my.
Die nuwe kombuis (soliede rooshout) wat ons in armoede in 2005 / 2006 laat bou het. Die vertrek was eers 'n gastekamer... Ons het heelwat mure afgebreek om die huis 'n oop-plan gevoel te gee.
Ons gastekamer met badkamer. Dit was eers die huis se kombuis... ver agter in die Suid-Oostelike gedeelte van die huis weggesteek. Nou is dit 'n heerlike gastekamer vir ons besoekers.
Die studeerkamer was eers die eetkamer. Ons het groot vensters en deure ingebou. Dit is heerlik om in die Somer met die oop deur te sit en werk laat in die aande, of vroeg in die oggende.
Ons hoofslaapkamer met 'n oop badkamer (foto onder) met bad, toilet, wasbak en stort. Ons het hierdie bouwerk gedoen in 2008.
Ek het oor die verloop van 'n paar naweke self hierdie vloer ingesit bo die TV kamer om nog 'n kamer te bou (toe Marinda swanger was met Lana). Dit is seker my gunsteling vertrek in die huis. Dit is oop met die gang, en die intensie was dat dit eendag 'n biblioteek sou word nadat ons 'n nuwe hoofslaapkamer op die garage se dakslab gebou het.
Jan-Hendrik se multi-coloured kamer. 'n Heerlike kinder speel- en slaapkamer met sy eie klein badkamertjie. Die verfwerk is gedoen in 2008. Die badkamertjie is gebou vroeg in 2012.
Die enigste vertrek waaraan ons niks verander het nie. Die onderste badkamer. Ons het wel die wit spieël se raam swart geverf (ter wille van verandering). Hier bad my kindertjies wanneer Marinda kos maak in die kombuis langsaan.
Die waskamer is lekker geisoleerd, weg van die res van die huis af sodat mens nie die heeltyd die wasmasjien en tuimeldroër moet hoor nie.
Die bouprojek in 2009 - 'n woonstel onder in die erf deur aan te bou aan bestaande store. Marinda ht dit gebruik as 'n praktyk, met kinders rondom haar voete.
Woonstel met sy eie badkamer (met stort, wasbak en toilet).
Met trots kan ek na al hierdie fotos kyk en weet dat ons 'n goeie lewe gemaak het in Nelspruit. Die restourasieproses was soms 'n pyn, maar retrospektief was dit 'n wonderlike ervaring. En ek besef ook dat ons heelwat waarde tot die eiendom toegevoeg het. Die vorige eienaars was nog nooit weer terug nie. Hulle sal die plek nie herken nie. Dit sal bitter moeilik wees om die sleutels aan iemand anders te oorhandig, maar ek kan nie aan die huis vaskleef vir altyd nie. Maar ek los dit agter met 'n skoon gewete en stringe goeie herinneringe.