12.11.10

5 o' clock gedagtes hier uit die groene Nelspruit..

Ek het vanoggend saam met die voëltjie wakker geword; ook maar omdat Jan-Hendrik op my kant van die bed gelê het en ek op die rand van die bed (op die harde gedeelte). Maar dit is darem lekker om soms baie vroeg op te staan, in jou tuin rond te loop en di eson te sien opkom. Ek besef net weer hoe mooi ons hierdie huis en tuin gerehabiliteer het in die afgelope 5 jaar wat ons hier gebly het. Dit voel deesdae baie lekker om agter in die tuin te sit en vir die voëls te kyk. Ek kan onthou dat daar in die verlede (voordat ons die agter-erf begin mooi maak het) weke verby gegaan het dat ek nie die agterdeur oopgemaak het nie; die plek was aaklig. Maar nou, veral met die onlangse reën, is die plek pragtig groen. Ek wag nou dat die plante wat ons hier in die agterste deel van die tuin geplant het, moet groot word; volgende somer behoort daar 'n mooi hedge voor die dek te wees; en ek beplan om 'n afdakkie te bou voor die deure van die gaste kamer en studeerkamer (om die reën uit te hou).
En kyk; hier word gespeel op hierdie erf.. Die idee was dat Marinda se pasiente wat té vroeg opdaag vir hulle afsprake vir 'n paar minute op die dek moet sit en die natuur geniet; maar Jan-Hendrik prop 'n gholfstok in enigiemand se hand en dring daarop aan dat hy/sy moet saam speel. Iemand het anoniem 'n ou paar ladies gholfstokke by die huis kom aflaai (een van Marinda se pasient), en Jan-Hendrik maak seker dat ek elke middag met elkeen van daai 14 stokke shots maak, en dan sê hy elke keer "Nice shot"; en hy komplimenteer natuurlik elkeen van sy eie shots ook.

Die kind is deesdae so ongelooflik oulik; hy het 'n ding ontwikkel oor leeus wat brul (hy loop rond en brul vir almal wat net effens vreemd is); en dis 'n diep brul so uit sy maag uit; en natuurlik is daar 'n verskillende brul vir die mammaleeu, babaleeu, en die PAPPALEEU!!! En dan ook helikopters wat bo-oor bome vlieg; dis sy twee groot favourites.

So groei my gesinnetjie; sussie is aan die gang; groei in haar stilte; Marinda al reeds baie ongemaklik (shame); ons het nie eintlik mooi fototjies van haar nie; met die mees onlangse ondersoek het Pieter nie fotos geneem nie, maar hy het baie mooi bevestig dat my dogter wel my dogter is en nie my seun nie.. Elke Pa dink ek moet 'n dogter hê; ek sal haar graag eendag na skool sal wil vat om te gaan shop en in 'n coffee shop te gaan sit (sonder dat haar Ma en boetie weet). En ek hoop sy aard na haar Ma; met haar Pa se bietjie ekstra rustigheid. Maar ons sal maar sien...




10.11.10

Musiek maak is darem moeilik...

Boeta het vanaand daarop aangedring dat ek sy "music" moet uithaal; dan wys hy met sy vingertjie na die viole bo-op die boekrak. Ek het vir hom sy cheap made-in-China agtste viooltjie uitgehaal, en ons het omtrent 'n uur lank saam met Carike (van alle mense...) oop snare gestryk. En hy lees kamtig die musiek op die staander... Sy ma moes maar die viooltjie vashou - nog hopeloos te groot vir hom..
Hy het dit vreeslik baie geniet; ek ook.