4.11.10

Tuis!!

Terug by die huis is daar regtig geen beter plek om aan die slaap te raak as op Mamma se magie by ongebore sussie nie... Almal is siek by die huis op die oomblik; Jan-Hendrik is uitgesproke oor die feit dat die skool ons almal siek gemaak het, en hy weier volstrek om terug te gaan. Mamma sal maar die skool moet gelukkig hou... Hy is mal oor fotos neem, en hier het hy 'n pragtige foto van homself geneem wat ek op die oomblik gebruik as my rekenaar se desktop.
Een aand laat spring ek en Jan-Hendrik op sy aandrang op die trampolien in die donker, en hy wys na die boom en sê "hoender". Toe sien ek ook uiteindelik die hoender waarna hy verwys. Dis 'n visvangertjie wat sit en slaap in die boom (op hierdie fotos so bietjie verward met die ligte en al die aandag, maar wil nie wegvlieg nie). Ons kyk maar in die voëlboek en dink dis 'n jong Bruinkopvisvangertjie (Brown-hooded Kingfisher).


En gister hoor ek 'n gil uit Marinda se praktyk; vang hierdie skerpioen onder haar lessenaar (waar Jan-Hendrik elke dag speel...). Ons het hom oorkant die straat in die veld vrygelaat. Jan-Hendrik baie geinteresseerd. Wil net vat... Ek kan maar net hoop en bid...

Gholftoer - Hyatt Regency, Oubaai

Tydens ons toer was ons basis Oubaai. Fantastiese hotel met 5-ster geriewe. On skamer nommer 150; ek en Bokkie Lemmer het gedeel. Ek was die hele toer lank siek, en ek moet sê dat dit bietjie intimiderend is om 'n sinusitis, post-nasal drip brongitis te hê en die kamer met die ENT dokter te deel. Ek was bang ek word wakker met verbande oor my neusbrug... Maar toe kom ek agter hy snork ook maar...

Hierdie plek het my net weer tot die besef gebring dat té veel mense in Suid-Afrika té veel geld het en dit mors; dit terwyl meer en meer Suid-Afrikaners daagliks sterf aan TB en armoede. Moeilike gedagtes...



Pragtige sonsondergange oor Mosselbaai; deesdae 'n baie groot plek..



Die toer was baie lekker, maar ek het my gesinnetjie baie gemis, en toe ek van die vliegtuig afklim en veral Jan-Hendrik weer sien, toe het ek besef hoe baie ek gemis is. Daar is in hierdie lewe werklik niks meer belangrik as jou gesin nie. Ek was baie bly om weer by die huis te wees.

Gholftoer - Pinnacle Point

PINNACLE POINT!! Now this is something else. Ek dink die baan is gebou vir die oog, en nie regtig vir die gholf nie. Dis 'n wonderlike plek om te speel, maar dis baie maklik om hier sleg te speel. Af van die fairway af is 'n lost ball. Balle raak net weg in die fynbos, en daar is slange, skerpioene en baie ander gevaarlike goed in hierdie bosse. Die ander manne sê vir my die fynbos ruik heerlik as jy jou bal daar gaan soek, maar ek sal nie weet nie; ek het maar seker gemaak dat ek in die fairway loop. Ou Bokkie Lemmer het die volgende dag met ontbyt nog die fynbos bosluise van sy lyf af getrek...
Maar die plek is pragtig!! En elke gat is 'n absolute meesterstuk!! En die hoogte verskille tussen houe waarmee mens moet rekening hou was vir my iets baie vreemds - PW op 160m op party gate; 5-yster op 120m op ander plekke, ens. En dit sonder wind (ons het op 'n nat en koue reëndag gespeel; die wind het weg gebly).

Moeilike stokkeuses; risk-reward besluite... Op elke gat. Heerlike toets vir gholf..
En op elke gat is daar 'n wonderlike uitsig!! Omtrent geen water op die baan nie, behalwe natuurlik vir die see; en die see is in spel op meeste gate...

Die verloorspan.. Theo Stronkhorst en Piet Scheepers.


Jean Nel het 'n hole-in-one geslaan op die 13'e - korterige gat oor die rotse. Ek het 'n 9-yster agter op die green geslaan (was bietjie bang). Hy het 'n PW binne by die gat geslaan; sy eerste ooit; almal was baie opgewonde; sommiges was emosioneel; almal was jaloers. Wat 'n fantastiese baan vir 'n 1. Die score card sê baie - kyk na die res van sy telling - baie nulletjies, maar seker die beste rondte van sy lewe. Die vraagtekens onder sy telling is Alex Kuhn wat ook 'n 1 vir 4 wou gehad het, aangesien ons 'n scramble dryf gespeel het... die organiseerders van die dag het hierdie voorstel van die hand gewys..

En hierdie foto is die gat waarop Jean sy hole-in-one geslaan het. Magic!!

Ons 4-bal - ek, Theo, Pieter en 'n witwarm Willie Kruger.


WONDERLIKE BAAN!! Ek het besluit om Marinda en Jan-Hendrik en sy sussie 'n paar keer hierheen te bring vir gholf in die volgende paar dekades. Kom ons hoop dit bly bekostigbaar (tans so R530 per rondte; sluit 'n karretjie in).


Gholftoer - George Country Club

George CC- jare gelede een keer hier gespeel, en na hierdie rondte het ek net weer besef wat 'n wonderlike baan dit is; defnitief die beste baan wat ons op die toer gespeel het - moeilike baan om te speel, maklike baan om te loop. Ek het 'n uitstekende caddy gehad - Dr. de Villiers ("dokter van gholf" volgens die ander caddies; hy self 'n 2 voorgee). Ek het nie nodig gehad om enige stokkeuse of lynkeuses self te maak nie; die man het vir my besluit. Al wat hy by my wou hê is 'n 36 op die tweede nege; en R200. En dit het so gebeur...
Klassieke styl ou baan met groen fairways wat versier word deur groot ou bome, pragtige tuine, moeilike besluite. My tiepe baan; niks Mickey Mouse (soos die ander twee bane nie - Kingswood en Pinnacle Point). Ek het die dag op George regtig baie geniet. Na die rondte het ek besluit om volgende jaar meer gholf te speel, want dit is die lekkerste ding wat mens in die buitelug kan doen!!
Die baan is so uitgewerk dat mens by tye 5- en 6-ysters moet inslaan green toe na goeie drywe, en die par 3's was almal baie uitdagend. En baie mooi om na te kyk!!
En met 'n swing soos daai kan gholf net lekker wees... (dis ekke daai)


Ek het op George saam met Werner Pakendorf, Fanie Hattingh (Potch) en Chris Burger (Vereeniging) gespeel. Chris was op die toer in die plek van oorlede Andre Venter (Patoloog in Vereeniging en geoeie vriend); dood drie weke gelede na 'n beroerte op 54! Ek sal hom baie mis, en dit maak my hartseer om te dink dat ek op hierdie wonderlike baan saam met Andre sou speel; 'n man wat self passievol oor sy gholf en sy Patologie was...



Gholftoer - Kingswood, George

Koud; nat; Kaap. Vliegtuig kon gelukkig land, maar die hele tyd kon ek nie help om aan ou Hansie en sy vliegongeluk te dink nie. Veilig op die grond - gholfbaan toe, en wat 'n verassing!! Kingswood is 'n pragtige (nuwe) gholfbaan reg langs George CC.
Met golwende groen fairways, pragtige versorging, interessante gate, goed afgewerkde sand bunkers, en vinnige greens wat baie beweeg. Ek het dit vreeslik geniet hier, en het selfs baie goed gespeel. Ek en Piet Scheepers het saam gespeel.






Gholftoer - Bryanston gholfdag

Ons gholftoer het begin met die Medi-clinic streeks-gholfdag by Bryanston. Ek was in baie goeie geselskap en ek moet erken ek het nie sleg gespeel nie. Die baan was baie mooi (soos altyd).
Hier wys ek vir die mense waarheen om te slaan. Ek kan nie verstaan hoekom hulle die hele tyd links of regs van die fairway is nie. Ek begin dink dat sekere mense nie kan mik nie...

Kop afhou is nie my probleem nie. En ek is geseënd met 'n redelike lae swaartepunt..

Die aand lekker gekuier saam met al my dokters vrinne. En Linda Semmens wat alles gereël het; perfek soos altyd.

Almal op die bus oppad hotel toe na die game en die ete. Dit sous en storm in Johannesburg. Bietjie bekommerd oor die kombinasie van reënweer en vliegtuie..

Teen my aard in het ek daardie aand vergeet om my wekker te stel; het die volgende oggend sleg verslaap; amper my vlug gemis.