Ek het besluit om vandag 'n klomp fotos te neem van die laboratorium. Dit is so 'n jaar gelede heeltemal oorgedoen, en ek dink dit lyk baie netjies; nogal modern. Die ingang gee al klaar 'n professionele indruk aan die besoeker. Dit moet lekker wees om hier jou bloed te laat trek...
Die histologie lab is nogal klein, maar baie funksioneel. Dit is heeltemal apart van die groot kliniese lab (en dis nogal hoe ons by histologie dit verkies).
Die histologie deursitarea waar die monsters beskryf en geprosesseer word.
--------------------------------------
Die kliniese lab - op dieselfde styl gebou - 'n oop plan lab met moderne features, nuwe masjiene, baie lig, groot vensters vir baie natuurlike lig. Ek dink dit is die mooiste lab in die Ampath groep.
En dan bestaan die lab natuurlik uit mense. Hier is Susan (of Sexy Susan soos ons na haar verwys). Sy doen al die sitologie (Papsmere) in die lab.
Ou Tony doen net mikrobiologie - hy werk dus nog steeds net met goggas. Ek het gehoor hy het 'n lang string grade in entomologie (insek-kunde), en ek dink hy het net 'n aftree-werkie kom soek in 'n mediese lab.
En my slim kollega - Reinette du Plessis. As ek iets nie weet nie, dan vra ek haar. (Sy kom vra my darem ook af-en-toe 'n opinie..)
Die lab bestuurder - Ria. Sy is die een wat alles en almal run. Sy is die baas. Sy sal nogal daarvan hou om te hoor dat ek so na haar verwys.
En ek sit in die corner office, met 'n deurmekaar tafel, 'n smart mikroskoop, en hope werk. Lekker!!
Die lewe van 'n histopatoloog is regtig nie sleg nie. Ons werk nie met pasiente nie - hulle griewe, vrae, angs, onsekerhede is goed wat ons tweede plaas; ons sê wat ons sien, en ons sê dit net soos dit is, en sodoende word die pasient op die vinnigste en beste manier gehelp. Ek is mal oor my werk, en ek het nog nooit 'n histopatoloog raakgeloop wat nie so voel nie.