4.2.11

Jan-Hendrik se eerste "race"

Die twee het gisteraand aan die LVCC night race deelgeneem; ingeskryf vir die 5km fun run; seker net so 2km gedoen. Vir die geleentheid hyt Marinda dit goed gedink om vir Jan-Hendrik my 2009 Mpumalanga atletiek lisensie nommer op sy hempie vas te werk (nommer omtrent nooit gebruik nie...), en sy het vir hom splinternuwe tekkies gaan koop. Hy was letterlik so gelukkig soos 'n kind met nuwe skoene...




Ek het nog altyd 'n ding oor skoene gehad. Dis moeilik om te verduidelik, maar ek dink ek heg baie menswaardigheid aan skoene, en dit maak my trots om vir my kind skoene te kan koop. Ek vind ook 'n vorm van sekuriteit in skoene - dit bedek moes jou voete, en dit gee jou die vermoë om ver te kan loop sonder om seer te kry; maar ek dink ek voel so oor skoene omdat dit jou voete warm hou. Mooi skoene aan jou kinders se voete voel amper vir my soos 'n toets of eerder 'n vereiste vir goeie ouerskap; arm kinders se skoene is of oud en vol gate of hulle het glad nie skoene nie. Ek voel amper dieselfde oor 'n truitjie in die winter. Dis daai bietjie ekstra beskutting wat jy vir jou kinders wil gee wanneer jy nie by hulle is nie - skoene en 'n truitjie...
Ou Mike Burraston het ook vir my gesê dat 'n ou met skoon skoene en ou klere beter lyk as 'n ou met nuwe klere en vuil skoene. Ek gaan onmiddelik my skoene skoon maak; en sommer my baard ook af skeer. Thanks Mike!!

Die pragtige vroumense in my huis..

Ek is 'n baie geseënde man om sulke pragtige dames onder my dak te mag hê!! Ons lê en kyk Sevens op die TV; neem fotos vir toekomstige verwysing. Dis darem lekker om terug te gaan 'n jou foto album, of om terug te gaan in die video kamera se geheue; en om te sien hoe jou lewe vorder, en hoe jou kinders groot word.


Ja-nee; in hierdie huis is alles volmaak!! Kyk Lana se groot voorkop!! Baie breins; net soos haar boetie. Ons sal hulle al vroeg moet leer skaak speel!! En leer koerant lees..

Gholf saam met die rugby helde..

Afgelope Woensdag oggend; vroeg man; té blerrie vroeg; op die 10'e by Witrivier; met 'n slegte verkoue; gholfdag saam met Toks van der Linde en Divan Serfontein; slegste rondte gholf in seker twee jaar. Gelukkig 'n 4-ball alliance met one score to count.. So dit was regtig nie nodig vir my om goed te speel nie; die ander manne was in vorm.



Die man het 'n swing en 'n half; en uitstekende beheer oor sy gewrigte; lang bal; van regs na links; soms straight regs. Ek was impress; en ek was die meeste impress met sy ou Ping 5-hout (regte hout hout van die laat 80's); sy towerstaffie sê hy; nog in uitstekende toestand, en hy slaan hom 'n myl!

My dag was maar grootliks van boom tot boom; dam tot rivier; blackout tot bogey. Daar was drie goeie spelers op die veld, en 'n scorer met 'n hoofpyn, 'n seer keel, en 'n nat neus..

Dit het gelyk of oom Bernie skelm geoefen het terwyl hy met vakansie in die Kaap was.. Ek dink ons moet hom terug skuif wit bowwe toe.

En ou Joos Scheepers het self herken hy kook... al moes hy dit nou self sê... jy weet, so op 'n moerse beskeie manier...

En ek het maar die beste van die dag gemaak deur mooi fototjies van die baan te neem; die blommetjies en goggatjies af te neem; my neus met my gholfhandskoen uit te blaas (dis nie goed vir jou grips nie)..

Oom Bernie was so effe geskok met my telling.

En Joos het maar net vir my gesit en lag..

En Toks het my probeer moed inpraat; iets oor "dat daar altyd nog 'n dag is", ens. ens.



Divan het in die 4-bal agter ons gespeel; glo ook 'n goeie gholfer. Hulle het gewen; ons was tweede.. Hy het saam met Jacques Henning gespeel; dié het glo die bal reguit geslaan; en as jy DIT glo, sal jy ENIGIETS glo...

Heerlike dag; saam met wonderlike mense!! En hoe sê hulle - selfs 'n slegte dag op die gholfbaan is nog steeds beter as 'n goeie dag op kantoor. Ek weet darem nie; ek het halfpad deur die game werk toe terug verlang; en toe slaan ek 'n Tiger Woods op-sy-beste (met klere aan) dryf op die voorlaaste gat; en toe dink ek ook dat daar na enige swak rondte weer nog 'n dag sal wees... OK, Toks, ek sal terug wees...

Heidi en haar ma kom kuier..

Die oggend se gewone goed (soos eet, slaap en tv kyk) is vriendelik onderbreek deur Heidi en haar ma. Dis die eerste keer wat hulle vir klein Lana kon sien, maar ek dink Jan-Hendrik het die show so bietjie oorgeneem.


In die gees van gasheer speel, en vir so bietjie vermaak het hy uit volle bors, luidkeels, ongeinhibeerd, oorspontaan, met lukrake akkoorde, met nuwe eksotiese ritmes, uitgebars in die enigste liedjie wat hy enduit ken: "HAPPY BIRTHDAY TO YOU...."

31.1.11

Pappa se "groot sterk seun"!!

Ja, Naka ook, maar net om vir almal te sê dat ons darem nog nie van Jan-Hendrik vergeet het nie... Hy raak 'n lekkerder laaitie elke dag; wonderlike sin vir humor - een van sy gunsteling dinge om te sê is "Jajek (Jan-Hendrik) GROOT piepie; Pappa klein piepie", en dan lag hy sy gat af. Hoe weet 'n twee-jarige dis snaaks? Gelukkig weet ons almal hy verstaan nog nie mooi die verskil tussen groot en klein nie... En sy piepie is regtig nie so groot nie... ek weet nie waaroor hy tekere gaan nie...

Die swembad is die beste plek in Nelspruit; en sy selfvertroue in die swembad groei dag vir dag; hy hou nou al mooi aan die kant van die swembad vas en loop lateraal vir verskeie meters met sy handjies; maar ek moet hom kom vashou; ek maak of ek vergeet en gaan kyk na goggas twee meter weg, en as ek kyk dan het hy nog 'n voet of twee gevorder... Volgende seisoen swem hy soos 'n vis.



Saans effe verveeld voor slaaptyd (biebies (Cbeebees) af, nanna nog nie gemaak nie, nog nie vaak nie; kan nie buite gaan speel nie; gevaarlike tyd van die dag...)


OK... amper vaak...
Mal oor sy ma; mal oor fotos neem...

Wil self... myne kamema (kamera)... Myne nekenaar (rekenaar)...
Myne self tande borsel... met bjand(brand) tande pasta (ons sn..)


Self afdroog na stort... self stort... self uittrek... myne... self... (ons huis se meer populere woordjies)...

So hou sy aan groei...

Die gesinnetjie vind veiligheid in die boonste vertrekke van die huis (as die alarm aan is); en ons help almal om mekaar skoon en mooi te kry. Jan-Hendrik is BAIE erg oor sy sussie; hy wil haar nie uitlos nie. Ek begin al minder met hom daaroor baklei; ons manage maar die probleem, maar ons los hulle nie 'n halwe sekonde alleen nie; ek is bang hy kom by die trappe af geloop met haar onder die arm...

"kyk pappa kyk"; doef-doef-doef ... asem in, en SKREEEEEEEEEUUUUU...

Dit kan gebeur, ons weet.


Ons is so ver baie gelukkig met ons dogter; ons wou haar nog nie vir die hospitaal terug gee nie, maar ek moet erken - sy kerm en skreeu meer as Jan-Hendrik, en sy drink start-stop-start-stop, ens. Put haar ma lekker uit. Ek kry self nie baie slaap nie; probeer vir Jan-Hendrik gewoond maak aan sy eie kamer en bed. Nog nie gewen nie...

Maar sy is PRAGTIG!! Op hierdie stadium kan sy maar doen wat sy wil...






Op pad dorp toe (of kerk toe, ek kan nie onthou nie)..

Sy is werklik 'n wonderlike toevoeging tot ons huis; ek kan amper nie 'n tyd onthou toe ons net drie was nie... Ja dit was 'n rustiger tyd (selfs rustiger toe ons net twee was), maar hulle (kinders) gee my skielik nuwe perspektiewe op die lewe - ons moet "werk" en "grootmens wees" nie te ernstig neem nie... Ons geniet hulle baie (ten spyte van die min slaap).

Pamper party by MALY's

Ons vriende het vir ons 'n wonderlike surprise gehad afgelope naweek - 'n post-baby pamper part by die huis van die Humans; pragtige tuin; pragtige mense; (en 'n paar maar moerse honde wat lus lyk om my te byt; by tye was ek effe nervous).


Die formaliteite het ingesluit 'n simboliese wedloop deur hulle huis - Lana se marathon to life; beginnende by die 2010 Comrades marathon. Ek was ook daar; en het vir die hele dag lank ge-panic, want ek was bewus daarvan dat Marinda nie alleen gehardloop het nie.
Daar was 'n paar waterpunte langs die pad; ons praat nie daaroor nie...


Elkeen het 'n wonderlike boodskap aan Lana gehad; marathon-related...
Sussa was by tye samewerkend; meeste van die tyd nie...




Die seuns het woes gespeel; mekaar ge-tackle, kragte gemeet, mekaar laat huil... Dis maar wat hulle doen...


Groot buddies..

Die groter seuns het ure lank gesit en politiek en sport praat, mekaar laat huil... Dis maar wat hulle doen...


Ja, ons het die Anglo-Boere oorlog weer bespreek; almal het weer hoogs die moer in geraak..


Sommiges het vergeet dat antihistamiene en alkohol in kombinasie net uit is om k..k te maak.

Die tafel is pragtig gedek (in pienk); ek kon sien dat die Humans (soos altyd) baie moeite gedoen het. Baie dankie julle.