14.9.10

Ons seun word TWEE!!! Tyd vlieg hopeloos te vinnig...

Op 'n pragtige warm sonskyndag word ons kind 2!! Ons beplan al lank vir hierdie verjaardagpartytjie, en alles (selfs die weer) speel saam. Al die maatjies was hier behalwe die Scheeperse wat in Botswana rond-GPS-sukkel-sonder-teerpaaie. Die res van ons het 'n heerlike dag gehad!!! Die scene - ons agtererf, eetplek op die dek, springkasteel, 99% voltooide jungle gym. Daardie dag was ek werklik trots op die ure se sweet en houtkap, -saag en seerkry. Die kinders het die jungle gym ten volle benut.
Die koraalbome is vol in blom en dit gee wonderlike kleur aan die 2-jarige vuilvoete fees!!

Die springkasteel is 'n vreeslike bargain - iets soos R200 vir die hele naweek. Behalwe vir die dag van die partytjie het Jan-Hendrik en Therese (Nannies van nou af) Vrydag en Sondag voltyds gespring, weggekruip, ge-slide, ge-ensovoorts.

Die tema was Bob the Builder. Marinda het pragtige tema-spesifieke versierings in die hande gekry, en elke maatjie het 'n hard hat en blik vol tools gekry. En lekkers; baie lekkers.

Selfs die vreemdste tuingoggamaatjies het kom inloer. Kyk hierdie pragtige skepsel. Nie lank gebly nie... Vlerke lyk soos 'n ou antieke wereldkaart..


Die tafel gedek vir die kleingoed op die dek wat ek en my skoonpa en sy skoonpa gebou het. So kom elke bouprojek by ons huis tot sy reg. Op daardie hoek van die huis het Oupa Wes selfs een oggend grond gekoop. Ek is seker daar lê nog skroewe, stukke vel en bloeddruppels daar op die grond. (Om nie van die ego te praat nie).

Daar was iets lekkers vir almal by hierdie partytjie.

Hier is Marinda saam met Jan-Hendrik en Annette Barnard wat al die heerlike kos gemaak het (verjaardagkoeke en terte). Dankie Annette. Dit was wonderlik. Ook nie lank gehou nie... Baie honger magies; baie lekker kos...




Die springkasteel was 'n wenner. Dis waar meeste van die aksie was. Veral die seuntjies het soos bobbejane tekere gegaan; verbasend vlugvoetig vir 'n klomp 2- en 3-jariges. Volg ook die voorbeeld van die een of twee ouer kinders; so leer mens; blou kolle en al..

Hier is Jan-Hendrik en die Meyer-manne. Fix die springkasteel met die boor. Hulle lyk ernstig. Ek sal moet beginne smile as ek werk sodat my laaitie kan sien dis nie 'n straf nie...
Heidi was die jongste by hierdie party; goed toegerus vir die aanslag van die son - hoed, donker bril, sun screen, iets om te drink.
Dylan en sy ouers was hier. Ons was die week voor dit by sy partytjie. Hy het intussen die groen verloor; verander in 'n Blou Bul (ek weet nie of sy Pa daarvan gaan hou as hy dit hoor nie). Die swings wat ek en Marinda met vreeslike moeite self gemaak het werk!! (Ek dink nog steeds dis 'n beter idee om reeds gemaakte swings te koop by die ousie op die hoek...)

Almal sit aan by die tafel. Jan-Hendrik maak homself reg om die kersies uit te blaas. Ons oefen nou al maande daaraan. Hy is nou baie goed daarmee; meer wind, minder gop. Ons moes die kersies 'n paar keer aansteek en sing ter wille van die fotos en die video. Hy is baie vinnig om dit uit te blaas.
En hy sny die koek in stukke!!
Daar blaas hy die kersies uit sonder 'n probleem; niks fout met sy longetjies nie. Attitude ook reg - mens mag nie speel met oop vlamme nie..

Maatjies net waar jy kyk, en kyk hoe kleurvol is alles - die tafel, die klere, die tuin..
Ons buurvrou se dogtertjie - Nannies. Sy is seker op hierdie stadium Jan-Hendrik se beste maatjie. Sy is mal oor al sy speelgoed, en hy is mal oor haar. Baie slim kind. Sy glo ons honde blaf vir haar hond want hulle het katgriep (haar ma sê glo so).

Nico Meyer - aanvanklik stil; lewendig en spelerig na so bietjie suiker.
Sy ouer boetie Theunsie. Groot soet kind. Leer die res hoe werk die hamer en die boor. Want sy Pa het hom mos mooi geleer.

Kyk net hoe pragtig is klein Heidi. Sy is nou al so 3 of 4 maande oud as ek dit nie mis het nie. Ek het dit dalk mis; ek is nie goed met tyd hou nie..

En my seun eet en geniet homself dat die icing op sy voorkop sit.. Konsentreer diep en aandagtig om nie uit te mis op iets soets nie. Probeer jouself voorstel die taai gemors nadat 'n twee-jarige die spuit gevul met kondensmelk in die hande gekry het.
Nico het die jungle gym se hoogte oorwin. Die uitsig is nogal besonder van daar bo af. Jy kan al die blare in die geute sien, en die blare op die bure se sinkdak...
Nannies en haar ma; die twee blonds in ons straat (ons ken nie eintlik die ander mense nie...)

Theuns slaan 'n paar spykers dieper in (wat ek gemis het met die bou van die jungle gym).
Dylan raak filosofies oor die blare in die geute voor hy by die slide af versnel.
Heidi dra haar hard hat sonder 'n probleem. Weet nog nie lekker hoe werk die hamer nie. Kou maar eerder daaraan.



Oor die algemeen is Jan-Hendrik mal oor ouer kinders. Hy het basies die hele dag gespeel met Nannies en Theuns.
Pragtige Meyer kinders!!

Andrew en Tanya was natuurlik ook hier en het 'n heerlike naweek met ons gedeel. Help partytjie hou en wynbottels leegmaak. Ons het regtig baie lekker gekuier. Net jammer die naweek was so kort!

Baie lief vir sy Nannies. Ek dink hy gaan baie lief vir sy eie sussie ook wees.
Persente tyd later die aand. Hier is Andrew en JH by die pragtige geskenk wat hulle vir hom gekoop het. Ek en Tanya het dieselfde probleem - ons is op min fotos omdat ons al die fotos neem. Sorry Tanya - but scroll down...

Die partytjie was op die Saterdag. Hy het eintlik eers die Woensdag (1'e September) verjaar. Ons het vir hom gesing in die bed en hy het weer (30 keer) die kersies uitgeblaas.
En nog geskenke oopgemaak...

Pappa moes maar help want daai klein vingertjies is soms net nie sterk genoeg nie..

My pragtige gesin, almal op een foto. Ek is so ongelooflik lief vir almal van hulle (selfs die enetjie wat nog wegkruip - vandag met sekerheid gehoor dis Pappa se DOGTER; fotos sal later volg)

2 Jaar oud; 84cm lank; 12,8kg; alles by benadering, want die man wil nie stilstaan nie..
Hy baie in sy noppies met sy mooi nuwe bootse.
En hier sit hy baie trots by die verjaardaggeskenk wat ons (ek en Marinda) vir hom gekoop het. Hy ken die eerste 5 minute van Ice Age nou al vrek goed. Elke keer as die kar af- en weer aangeskakel word begin die DVD van voor af. Dit sal eers regtig van praktiese waarde wees as ons weer die langpad vat; dan kan Marinda bestuur en ek sal by Jan-Herndrik sit, want die DVD het twee skerms!!

Hier is Jan-Hendrik (uiteindelik) stil, beleefd, nice, vriendelik, en op 'n mooi foto saam met Tanya. Probeer verstaan - die kind sit nie sommer stil nie; en om so 'n mooi foto te kry van hom saam met iemand wat nie sy Pa of sy Ma is nie, moes iemand iets vreesliks funny agter die kameraman gedoen het. Of dalk was die kameraman self die clown; ek weet nie. Dankie vir die lekker kuiertjie julle. Ek weet die blog is laat, maar ons lewens is ook maar besig - baie laatslaap en gholf om te doen in die Laeveld...