27.11.10

Naweek by die huis..

Besoeker uit die tuin uit. Jongerige Bloukuifloerie. Eet die vrugte wat Marinda uitsit vir die voëls. Sy het dié fotos ook geneem. Lucky; sommer so by haar. Hulle is amper soos hoenders; kan baie mak word; sal glo uit jou hand uit eet as jy sy vertroue gewen het.

Jan-Hendrik wil nou met alle mag en krag sy fiets leer ry. Hy het my gesien fiets ry so 'n paar dae gelede en dring aan op Papps se fietry valhelm. Trap net met die een voet aanhoudend vorentoe; ry in alles vas want hy konsentreer te veel op die trap aksie; vergeet van die mik aksie.


Raak nou 'n regte seuntjie; slaap selfs nou op eie aandrang op sy eie bedjie wat voor ons bed lê. Eindig op op die vloer, en dan in ons bed. Ten minste slaap ek beter..

Ek het 'n nail gun gaan huur met 'n lekker kompressor. Daar is min dinge in die lewe wat vir man so veel man laat voel soos 'n nail gun of 'n kettingsaag nie. Gevaarlike speelgoed; maak die job baie makliker. Maar dis nog steeds nie maklik nie; mens werk afwaards; en op jou knieë. Ek is nie goed op my knieë nie; ek kry die idee ek was nog nooit bedoel om op my knieë te wees nie. Dis harde werk, en dis verskriklik warm in Nelspruit. En daar is geen ventilasie in die vertrek nie; moet nog 'n venster insit; en aircon. Maar dis lekker, en jy weet jy doen iets vir jouself en jou gesin. Die plan is dat hierdie nuwe vertrek met sy raserige en krakerige houtvloer eendag 'n studeerkamer / biblioteek kamer gaan wees waar die gesin elke aand gaan sit en studietyd hou. En nadese weet ek ook nou hoe werk vloere insit en nail gun skiet... dis nogal lekker, maar ek gaan vanaand slaap soos 'n blerrie klip.



En so lyk dit voorlopig van onder af; sal later 'n plafon met down lights bou; en 'n aircon onder.

En more is dit Sondag. Na kerk sal ek probeer om die vloer klaar te maak; want ek het net die gehuurde speelgoed tot Maandagoggend.

24.11.10

Ek wil SELF!!!

Hy wil elke aand "sy eie" "usic" speel; die "usic" is sy 1/8 viool; en niemand mag hom help nie. En hy dring daarop aan om saam met die hifi te speel; swaai sy gat so bietjie; en ek moet dan met my eie "usic" begin saamspeel. Klink vreeslik. Ek voel die hele tyd jammer vir die kinders langsaan wat moet eksamen skryf.

Hy stryk mooi (woes), en ek sien hy beweeg ook sy linkerhand se vingertjies in 'n poging om die klank te laat verander... Hy gaan eendag alles maklik aanleer.

Konsert met 'n view...

Saterdagaand en Sondagmiddag het ons weer twee suksesvolle konserte gehad by die Sheppard Boutique Hotel in Nelspruit; musiek uit die moderne era gespeel. Gelukkig goed waarna mens kon luister. Ek het die Vidui en Nigun van Ernest Bloch gespeel, en dan was daar werke van Debussy, Britten, Lutoslavski, ens. Die plek het 'n wonderlike uitsig oor die hele Nelspruit. Ek wonder hoe ver het die klank gestrek..

Ek, saam met Janette Rottcher agter die klavier..
en dan is daar Walter, die tenoor..

en Heloise die klarinetspeler.

En die konsert is gekombineer met 'n heerlike brandewyn proe saam met lekker kos. 'n Heerlike naweek met lekker mudiek, goeie geselskap, culture...

Ja; ek kan nog speel. Ek oefen deesdae heelwat meer, maar die vingers is so bietjie dik en lomp, en die spiere raak maar moeg van krom staan. Maar ek weier om iets te sê van oud word en realistiese verwagtinge. Ek moet maar net meer oefen...

Vitamien D is goed vir jou swing...

Dis Saterdagoggend, en ons 3 (amper 4) kuier buite in die son. Marinda het gelees dat mens jou kinders moet blootstel aan genoeg vroegoggendson vir daai Vitamien D produksie en lekker sterk bene en tande. Meneer se tande is 100%. Hy borsel immers ten minste twee keer per dag sy tande en hy dring daarop aan om ook te "spoeg" (mondspoel te gebruik; dis nou op; ons moet more nuwes koop). Ons speel baie gholf in die tuin, en ek maak seker hy herhaal die swing baie; die enigste manier om te leer. Kyk net daai pragtige swing en die perfekte spiere..



Ek leer hom so grappenderwys hoe werk die "weight transfer" ding; en hy oefen dit agter my aan; lag; en dan weer...

Ek en my seun; ons is (soos Jan en sy dogters) BESTE BUDDIES!!

En hy love sy swanger ma en vir "Sussa in Mamma se magie"...

En hy lê graag stil dat sy Ma sy gholfspeelspiere bietjie vryf, en sy longetjies klop; dis vir hom niks snaaks nie; hy sien dit elke dag. Hy help glo sy Ma in die praktyk - smeer die mense se nie-siek ledemate met olie terwyl sy Ma met die siek ledemate besig is.


Die kinders sê die snaakste goed - wanneer ons enige toilet trek, of ons gooi sy no 2's uit die doeke in die toilet af dan skreeu hy "Tata poefa!!" agterna...
En sy maatjie Therese sê die ander dag vir ons dat haar kat nou baie groot en swaar word. Hy is nou al "10 kilometer"...