Ek het hierdie keer baie lank gewag om nuwe fotos op die blog te sit. Onder is al die fotos sedert die begin van 2015. Groete, Piet
27.11.10
Naweek by die huis..
Besoeker uit die tuin uit. Jongerige Bloukuifloerie. Eet die vrugte wat Marinda uitsit vir die voëls. Sy het dié fotos ook geneem. Lucky; sommer so by haar. Hulle is amper soos hoenders; kan baie mak word; sal glo uit jou hand uit eet as jy sy vertroue gewen het.

Jan-Hendrik wil nou met alle mag en krag sy fiets leer ry. Hy het my gesien fiets ry so 'n paar dae gelede en dring aan op Papps se fietry valhelm. Trap net met die een voet aanhoudend vorentoe; ry in alles vas want hy konsentreer te veel op die trap aksie; vergeet van die mik aksie.

Raak nou 'n regte seuntjie; slaap selfs nou op eie aandrang op sy eie bedjie wat voor ons bed lê. Eindig op op die vloer, en dan in ons bed. Ten minste slaap ek beter..
Ek het 'n nail gun gaan huur met 'n lekker kompressor. Daar is min dinge in die lewe wat vir man so veel man laat voel soos 'n nail gun of 'n kettingsaag nie. Gevaarlike speelgoed; maak die job baie makliker. Maar dis nog steeds nie maklik nie; mens werk afwaards; en op jou knieë. Ek is nie goed op my knieë nie; ek kry die idee ek was nog nooit bedoel om op my knieë te wees nie. Dis harde werk, en dis verskriklik warm in Nelspruit. En daar is geen ventilasie in die vertrek nie; moet nog 'n venster insit; en aircon. Maar dis lekker, en jy weet jy doen iets vir jouself en jou gesin. Die plan is dat hierdie nuwe vertrek met sy raserige en krakerige houtvloer eendag 'n studeerkamer / biblioteek kamer gaan wees waar die gesin elke aand gaan sit en studietyd hou. En nadese weet ek ook nou hoe werk vloere insit en nail gun skiet... dis nogal lekker, maar ek gaan vanaand slaap soos 'n blerrie klip.
24.11.10
Ek wil SELF!!!
Hy wil elke aand "sy eie" "usic" speel; die "usic" is sy 1/8 viool; en niemand mag hom help nie. En hy dring daarop aan om saam met die hifi te speel; swaai sy gat so bietjie; en ek moet dan met my eie "usic" begin saamspeel. Klink vreeslik. Ek voel die hele tyd jammer vir die kinders langsaan wat moet eksamen skryf.
Konsert met 'n view...
Saterdagaand en Sondagmiddag het ons weer twee suksesvolle konserte gehad by die Sheppard Boutique Hotel in Nelspruit; musiek uit die moderne era gespeel. Gelukkig goed waarna mens kon luister. Ek het die Vidui en Nigun van Ernest Bloch gespeel, en dan was daar werke van Debussy, Britten, Lutoslavski, ens.
Die plek het 'n wonderlike uitsig oor die hele Nelspruit. Ek wonder hoe ver het die klank gestrek..
Vitamien D is goed vir jou swing...
Dis Saterdagoggend, en ons 3 (amper 4) kuier buite in die son. Marinda het gelees dat mens jou kinders moet blootstel aan genoeg vroegoggendson vir daai Vitamien D produksie en lekker sterk bene en tande. Meneer se tande is 100%. Hy borsel immers ten minste twee keer per dag sy tande en hy dring daarop aan om ook te "spoeg" (mondspoel te gebruik; dis nou op; ons moet more nuwes koop).
Ons speel baie gholf in die tuin, en ek maak seker hy herhaal die swing baie; die enigste manier om te leer. Kyk net daai pragtige swing en die perfekte spiere..


Ek leer hom so grappenderwys hoe werk die "weight transfer" ding; en hy oefen dit agter my aan; lag; en dan weer...
Ek en my seun; ons is (soos Jan en sy dogters) BESTE BUDDIES!!
En hy love sy swanger ma en vir "Sussa in Mamma se magie"...


Ek leer hom so grappenderwys hoe werk die "weight transfer" ding; en hy oefen dit agter my aan; lag; en dan weer...
Ek en my seun; ons is (soos Jan en sy dogters) BESTE BUDDIES!!19.11.10
Reën, reën, reën in nelspruit ...
Wat maak 'n man met homself as dit aanhoudend buite reën en mens nie buite kan speel nie. Wel, jy kan oefen om 'n drummer te raak op die leë blikke melk... Maak 'n vreeslike geraas, maar ek kan onthou hoe ek met messe en vurke op my Ma se tupperware bakke dromme geslaan het vir ure; op 'n novilonvloer in die kombuis. Hierdie kind doen dit met vreeslik baie gevoel..
Of jy kan met Naka die huishond speel wanneer hy (ook maar gatvol vir die reën) skelmpies deur die oop venster in die studeerkamer die huis binne kom om bietjie hitte te kom soek. Honde en kinders maak altyd die mooiste fotos, totdat natuurlik hy (die kind) vir hom (die hond) op 'n manier seer maak, en hy (die hond) vir hom (die kind) probeer in die blerrie gesig byt. Dit het wel ook so gebeur, en omtrent 30 sekondes na hierdie foto geneem is het hy (die hond) sy eie gat weer op die koue stoep bevind..
Of mens kan oorgee aan die wonderlike rustigmakende kragte van sagte deurdringende reën en slaap; en selfs as jy wakker word kan jy net aanhou maak of jy slaap...
Wat doen ek as dit reën? Ek slaap laat, werk, speel met my seun in die huis (op hierdie stadium speel ons vang-my-en-maak-soos-'n-groot-leeu), of ek lê en speel met my dogter (op hierdie stadium speel ons waar-de-hel-dink-jy-is-haar-kop). Wonderlike dinge hier in onse huisie in Nelspruit.
14.11.10
Deurmekaar...
Vandag; 'n effe vreemde dag hier in Nelspruit. Dis bewolk en koel; reën saggies nou. Ons het na kerk gou die gebruiklike Spur-burger gaan afwurg en daarna gesukkel om Jan-Hendrik uit die Spur se speelarea uit te kry (kruip weg springende op die trampoelien waar ek nie kan kom nie; lag vir my). By die huis gekom het ons almal so bietjie skuins gelê; met die een interessante program op Discovery aan die slaap geraak; net om 'n uur later moerse verward in die volgende onverwante maar ewe interessante program op Discovery wakker te skrik en jouself die vraag te vra (met 'n ou brood smaak in die mond; en 'n seer keel van oopmond lê en snork):"Hoe de moer het die dinosaurs so vinnig in Nazi's verander?"... Slaap; 'n wonderlike ding. Met vreeslike groot voorneme en 'n to-do lys opgestaan, werksklere aangetrek, en my net weer eens vasgeloop in 'n verkeerde-tool-vir-die-verkeerde-job situasie; 3 ure gesukkel om 'n eenvoudige blerrie staalhek voor die tuinstoor vas te sit (al daai moeite, vloek en pyn net om Afrika uit jou goed uit te hou); en dan ontdek mens mos allerhande vreemde versamelstukke in Sunnyboy se stoor; soos leë botteltjies, lee spuitkannetjies, ou koerante en ons %*&!! DSTV TV guide van Oktober (gewonder waar hy was...), selfs braaivurke (wat nie aan ons behoort nie). Mens wonder wat de hel hy met skerp goed wil doen; ek is seker hy wil nie daarmee braai nie. Afrika is 'n gevaarlike plek, reken ek. Nannies (Therese) het 'n nuwe Jack Russel (dammit!!). Die vorige een (wat vir alles en almal geblaf het; nee, geskreeu het met 'n kom-skiet-my-high-pitched kef) het spoorloos verdwyn (ek SWEER dit was nie ek nie; net ingeval my vrou of die buurvrou nou baie skepties met een wenkbrou op en die ander wenkbrou af hierdie blog entry lees, en dalk net vir MY verdink). Jan-Hendrik het op en af opgewonde rondgespring oor hierdie 5 weke oue (lyk vir my eerder 8 weke) semi-opreg brak; maar ek moet sê die hondjie is baie mooi; ek hoop net nie hy wandel niksvermoedend ons erf binne (want kyk die bure glo aan 'n oophek policy); en my honde verskeur hom ten aanskoue van jong ogies nie. Ek het gewaarsku.
En na die hek-ding en die verkeerde boorpunte vir die verkeerde dikte staal, probeer ek toe mos om die venster wat Jan-Hendrik 'n paar maande gelede gebreek het toe hy randomly iets gegooi het, reg te maak. Putty afgekrap; gisteroggend al die glas gaan koop by aaklige mense wat om hemels naam net wou toemaak en huis toe gaan; net om agter te kom dat die glas (wat mooi in koerantpapier toegedraai is) merdes toe gebreek het in my kar gister op 'n slegte grondpad. Dus, die oop venster op die foto; veroorsaak 'n heerlike trek deur die sitkamer; ek kan dalk net oorweeg om dit permanent onge-fix te los...
Ek gaan nou gou Vrydag se werk uitteken. Nooit op die gholfbaan uitgekom vandag nie (ek wou SOOO graag). En ek mis die US PGA op die TV in die aand (selfs vir Tiger). Daar is niks om te kyk op TV nie; nou net vir twee ure lank my tyd gemors met 'n Nicolas Cage - End of the World tiepe movie; met aliens vir engele...
12.11.10
5 o' clock gedagtes hier uit die groene Nelspruit..
Ek het vanoggend saam met die voëltjie wakker geword; ook maar omdat Jan-Hendrik op my kant van die bed gelê het en ek op die rand van die bed (op die harde gedeelte). Maar dit is darem lekker om soms baie vroeg op te staan, in jou tuin rond te loop en di eson te sien opkom. Ek besef net weer hoe mooi ons hierdie huis en tuin gerehabiliteer het in die afgelope 5 jaar wat ons hier gebly het. Dit voel deesdae baie lekker om agter in die tuin te sit en vir die voëls te kyk. Ek kan onthou dat daar in die verlede (voordat ons die agter-erf begin mooi maak het) weke verby gegaan het dat ek nie die agterdeur oopgemaak het nie; die plek was aaklig. Maar nou, veral met die onlangse reën, is die plek pragtig groen.
Ek wag nou dat die plante wat ons hier in die agterste deel van die tuin geplant het, moet groot word; volgende somer behoort daar 'n mooi hedge voor die dek te wees; en ek beplan om 'n afdakkie te bou voor die deure van die gaste kamer en studeerkamer (om die reën uit te hou).
En kyk; hier word gespeel op hierdie erf.. Die idee was dat Marinda se pasiente wat té vroeg opdaag vir hulle afsprake vir 'n paar minute op die dek moet sit en die natuur geniet; maar Jan-Hendrik prop 'n gholfstok in enigiemand se hand en dring daarop aan dat hy/sy moet saam speel. Iemand het anoniem 'n ou paar ladies gholfstokke by die huis kom aflaai (een van Marinda se pasient), en Jan-Hendrik maak seker dat ek elke middag met elkeen van daai 14 stokke shots maak, en dan sê hy elke keer "Nice shot"; en hy komplimenteer natuurlik elkeen van sy eie shots ook.
Die kind is deesdae so ongelooflik oulik; hy het 'n ding ontwikkel oor leeus wat brul (hy loop rond en brul vir almal wat net effens vreemd is); en dis 'n diep brul so uit sy maag uit; en natuurlik is daar 'n verskillende brul vir die mammaleeu, babaleeu, en die PAPPALEEU!!! En dan ook helikopters wat bo-oor bome vlieg; dis sy twee groot favourites.
So groei my gesinnetjie; sussie is aan die gang; groei in haar stilte; Marinda al reeds baie ongemaklik (shame); ons het nie eintlik mooi fototjies van haar nie; met die mees onlangse ondersoek het Pieter nie fotos geneem nie, maar hy het baie mooi bevestig dat my dogter wel my dogter is en nie my seun nie.. Elke Pa dink ek moet 'n dogter hê; ek sal haar graag eendag na skool sal wil vat om te gaan shop en in 'n coffee shop te gaan sit (sonder dat haar Ma en boetie weet). En ek hoop sy aard na haar Ma; met haar Pa se bietjie ekstra rustigheid. Maar ons sal maar sien...
10.11.10
Musiek maak is darem moeilik...
Boeta het vanaand daarop aangedring dat ek sy "music" moet uithaal; dan wys hy met sy vingertjie na die viole bo-op die boekrak. Ek het vir hom sy cheap made-in-China agtste viooltjie uitgehaal, en ons het omtrent 'n uur lank saam met Carike (van alle mense...) oop snare gestryk. En hy lees kamtig die musiek op die staander...
Sy ma moes maar die viooltjie vashou - nog hopeloos te groot vir hom..
Hy het dit vreeslik baie geniet; ek ook.

4.11.10
Tuis!!
Terug by die huis is daar regtig geen beter plek om aan die slaap te raak as op Mamma se magie by ongebore sussie nie... Almal is siek by die huis op die oomblik; Jan-Hendrik is uitgesproke oor die feit dat die skool ons almal siek gemaak het, en hy weier volstrek om terug te gaan. Mamma sal maar die skool moet gelukkig hou...
Hy is mal oor fotos neem, en hier het hy 'n pragtige foto van homself geneem wat ek op die oomblik gebruik as my rekenaar se desktop.
Een aand laat spring ek en Jan-Hendrik op sy aandrang op die trampolien in die donker, en hy wys na die boom en sê "hoender". Toe sien ek ook uiteindelik die hoender waarna hy verwys. Dis 'n visvangertjie wat sit en slaap in die boom (op hierdie fotos so bietjie verward met die ligte en al die aandag, maar wil nie wegvlieg nie). Ons kyk maar in die voëlboek en dink dis 'n jong Bruinkopvisvangertjie (Brown-hooded Kingfisher).
Gholftoer - Hyatt Regency, Oubaai
Tydens ons toer was ons basis Oubaai. Fantastiese hotel met 5-ster geriewe. On skamer nommer 150; ek en Bokkie Lemmer het gedeel. Ek was die hele toer lank siek, en ek moet sê dat dit bietjie intimiderend is om 'n sinusitis, post-nasal drip brongitis te hê en die kamer met die ENT dokter te deel. Ek was bang ek word wakker met verbande oor my neusbrug... Maar toe kom ek agter hy snork ook maar...
Subscribe to:
Posts (Atom)