Wat maak 'n man met homself as dit aanhoudend buite reën en mens nie buite kan speel nie. Wel, jy kan oefen om 'n drummer te raak op die leë blikke melk... Maak 'n vreeslike geraas, maar ek kan onthou hoe ek met messe en vurke op my Ma se tupperware bakke dromme geslaan het vir ure; op 'n novilonvloer in die kombuis. Hierdie kind doen dit met vreeslik baie gevoel..
Of jy kan met Naka die huishond speel wanneer hy (ook maar gatvol vir die reën) skelmpies deur die oop venster in die studeerkamer die huis binne kom om bietjie hitte te kom soek. Honde en kinders maak altyd die mooiste fotos, totdat natuurlik hy (die kind) vir hom (die hond) op 'n manier seer maak, en hy (die hond) vir hom (die kind) probeer in die blerrie gesig byt. Dit het wel ook so gebeur, en omtrent 30 sekondes na hierdie foto geneem is het hy (die hond) sy eie gat weer op die koue stoep bevind..
Of mens kan oorgee aan die wonderlike rustigmakende kragte van sagte deurdringende reën en slaap; en selfs as jy wakker word kan jy net aanhou maak of jy slaap... Wat doen ek as dit reën? Ek slaap laat, werk, speel met my seun in die huis (op hierdie stadium speel ons vang-my-en-maak-soos-'n-groot-leeu), of ek lê en speel met my dogter (op hierdie stadium speel ons waar-de-hel-dink-jy-is-haar-kop). Wonderlike dinge hier in onse huisie in Nelspruit.