14.11.10

Deurmekaar...

Vandag; 'n effe vreemde dag hier in Nelspruit. Dis bewolk en koel; reën saggies nou. Ons het na kerk gou die gebruiklike Spur-burger gaan afwurg en daarna gesukkel om Jan-Hendrik uit die Spur se speelarea uit te kry (kruip weg springende op die trampoelien waar ek nie kan kom nie; lag vir my). By die huis gekom het ons almal so bietjie skuins gelê; met die een interessante program op Discovery aan die slaap geraak; net om 'n uur later moerse verward in die volgende onverwante maar ewe interessante program op Discovery wakker te skrik en jouself die vraag te vra (met 'n ou brood smaak in die mond; en 'n seer keel van oopmond lê en snork):"Hoe de moer het die dinosaurs so vinnig in Nazi's verander?"... Slaap; 'n wonderlike ding. Met vreeslike groot voorneme en 'n to-do lys opgestaan, werksklere aangetrek, en my net weer eens vasgeloop in 'n verkeerde-tool-vir-die-verkeerde-job situasie; 3 ure gesukkel om 'n eenvoudige blerrie staalhek voor die tuinstoor vas te sit (al daai moeite, vloek en pyn net om Afrika uit jou goed uit te hou); en dan ontdek mens mos allerhande vreemde versamelstukke in Sunnyboy se stoor; soos leë botteltjies, lee spuitkannetjies, ou koerante en ons %*&!! DSTV TV guide van Oktober (gewonder waar hy was...), selfs braaivurke (wat nie aan ons behoort nie). Mens wonder wat de hel hy met skerp goed wil doen; ek is seker hy wil nie daarmee braai nie. Afrika is 'n gevaarlike plek, reken ek. Nannies (Therese) het 'n nuwe Jack Russel (dammit!!). Die vorige een (wat vir alles en almal geblaf het; nee, geskreeu het met 'n kom-skiet-my-high-pitched kef) het spoorloos verdwyn (ek SWEER dit was nie ek nie; net ingeval my vrou of die buurvrou nou baie skepties met een wenkbrou op en die ander wenkbrou af hierdie blog entry lees, en dalk net vir MY verdink). Jan-Hendrik het op en af opgewonde rondgespring oor hierdie 5 weke oue (lyk vir my eerder 8 weke) semi-opreg brak; maar ek moet sê die hondjie is baie mooi; ek hoop net nie hy wandel niksvermoedend ons erf binne (want kyk die bure glo aan 'n oophek policy); en my honde verskeur hom ten aanskoue van jong ogies nie. Ek het gewaarsku. En na die hek-ding en die verkeerde boorpunte vir die verkeerde dikte staal, probeer ek toe mos om die venster wat Jan-Hendrik 'n paar maande gelede gebreek het toe hy randomly iets gegooi het, reg te maak. Putty afgekrap; gisteroggend al die glas gaan koop by aaklige mense wat om hemels naam net wou toemaak en huis toe gaan; net om agter te kom dat die glas (wat mooi in koerantpapier toegedraai is) merdes toe gebreek het in my kar gister op 'n slegte grondpad. Dus, die oop venster op die foto; veroorsaak 'n heerlike trek deur die sitkamer; ek kan dalk net oorweeg om dit permanent onge-fix te los...
Ek gaan nou gou Vrydag se werk uitteken. Nooit op die gholfbaan uitgekom vandag nie (ek wou SOOO graag). En ek mis die US PGA op die TV in die aand (selfs vir Tiger). Daar is niks om te kyk op TV nie; nou net vir twee ure lank my tyd gemors met 'n Nicolas Cage - End of the World tiepe movie; met aliens vir engele...