6.9.10

Sommige mense word maar net daarmee gebore...

Let op 'n paar punte - uitstekende verplasing van gewig, extension deur die bal, rol die regter hand oor die linker hand, volledige follow-through. Ons werk nog aan die set bo aan die backswing. Jan hoef nie alleen te voel met sy geknakte linkerarm nie ...

Eina ... my TOON!!!

Jan-Hendrik het 'n ding oor my hammer. Hy huil snot en trane om met MY hammer te speel; dan kap hy teen alles wat waardevol is. So 'n week gelede speel hy met my hammer buite rondom die swembad, laat val dit, op sy toon. Ek het dit sien gebeur. Moes vrek seer gewees het. Hy het so 'n uur lank gehuil, en die hele dag met die toon in die lug gelê. Ons moes vir hom alles bring...

Tiertjie het hom bysgestaan. Ons het net gelag.

Kyk wie het kom kuier!!

Klein Heidi het so gou groot geword, en sy is pragtig!! Kyk daardie pragtige oë. Jan-Hendrik is obviously mal oor haar...

24.8.10

TV kykgenot...

Snaaks hoe mens se lewe en TV voorkeure verander. 80's Night Rider; 90's McGyver en Bay Watch; 00's CSI & Soft Porn of E (net 'n grappie); 10's CBeebies - Big Cook Little Cook, The Night Garden, en Show me Show me is van ons grootste gunstelinge. Jan-Hendrik huil na elke storie (as die name opkom), en dan raak hy stil as die volgende storie begin. En ons doen dit vir URE!!!!




Sosiaal saam met die kollegas...

Twee jaar oud en hy maak beter skoon as you know who... Dis so snaaks - ek roep vir Sunnyboy, dan gaan JH aan met "My boy!!; my boy!!!". Hy en Sunnyboy is groot gabbas; hulle maak saam skoon vir ure. JH kan nie wag vir Myboy om te kom werk nie. Myboy kan nie wag vir 3uur nie... Saterdagaand heerlik gaan kuier by Reinette du plessis se huis op Shandon - nuut oorgedoen, stunning plek. Hier is Gladys en Tania (beide swanger)...


Jan-Hendrik het rongehardloop en gespeel; 'n happie by almal gevat; met klein Elizabeth se speelgoed gespeel totdat hy oormoeg en effens mal was. Geslaap soos 'n klip daai nag.

Klein Dylan Busschau verjaar!!

Net een week later en Jan-Hendrik se voorkop lyk amper weer normaal. Hy het die rowe ontdek en groot vreugde gevind daarin om dit af te krap. Ons was afgelope Saterdag my Dylan Busschau se 2'e verjaardag (ja, dit is 'n van, en dit is reg gespel...). JH was aanvanklik so bietjie skaam, maar het toe later heerlik saam met al die maatjies gespeel, veral die ouer kinders en die hond. Die verjaardagmaatjie is die groen ene. Hy is glo mal oor parras (meeste seuns is mal oor parras, en ek dink min van hulle ontgroei dit heeltemal...).
Lyk of hy 'n zol aansteek...

Die twee manne speel heerlik saam; ewe stoutgat, slim en nuuskurig.. Een met baie hare; en die ander met min...

Die koek was pragtig - 'n groot groen parra!

Hier is Dylan se Pa en Ma, en sy Pa (Crazy Dave) moes hom help met die kersies doodblaas, want vir hom was dit mooier in die lewendige toestand. Waar kom dit vandaan dat mens kerse moet doodblaas? Klink effens verkeerd - dooie kerse dui mos op die einde van iets; 'n nuut-aangesteekte kers dui mos op die begin van 'n nuwe lewensjaar. Ek wonder maar net...

En die maatjies eet, en die maatjies speel.

En die hond gedra hom self (dalk 'n sy; haarself..). Kan nie sien nie - balon in die pad... Het nie probeer kyk by die partytjie nie; sommiges sou dit vreemd gevind het..

Heerlike partytjie; baie goeie mense!!

20.8.10

Die groot EINA!!

Wimpy parkeerarea by die Grove in Nelspruit!!! Sal ek dit ooit vergeet.... Die man het deesdae die geneigdheid om net skielik te begin hardloop; so vinnig as wat sy kort beentjie hom kan dra. Ek en Marinda staan en betaal vir die Wimpy ontbyt, en meneer drentel om my bene rond; vat toe skielik die pad, by die deur uit, en hy sprint soos 'n ene Bolt oor die parkeerarea (gelukkig geen karre nie), struikel oor die randsteen net voor die regte pad (met karre), en DONDER neer (met my in top vorm, doing a personal best, op sy hakke maar nog oortuigend tweede (dus laaste), net betyds om hom (skreeu soos 'n bobbejaan wat deur 'n luiperd plat getrek is) op te tel ten aanskoue van die hele Nelspruit (ou tannies skud hul %&^*!! bliksemse koppe en prewel iets oor "sommige onverantwoordelike ouers"). Die knop was onmiddelik daar, nerf af, bloed loop, meng met die trane oor die wange; en Mamma is vir my die moer in... Ek onderneem om hom 'n pak slae te gee oor hierdie gehardloop ding, maar besef toe hy het werklik seer gekry en troos hom toe vir 'n uur. Kom ons sê maar net dat 'n heerlike Saterdag in 'n kakkerige een verander het.
Gelukkig was die volgende dag Sondag, en kinders herstel verbasend vinnig. Die groot EINA!! het toe 'n baie prominente talking point in ons huis geword. Die gesprekke gaan so: "Pasop jy gaan ...", dan sê hy "afval", en dan vra ek "Wat dan?" dan sê hy "huil". Sy ander gunsteling sêding deesdae is "groot mes", en dan hardloop hy flat out met 'n moerse mes in 'n rigting. Sy gat het al per geleentheid lekker gebrand hieroor.

STOUTGAT!!!

Mens kan sommer sien dat hy so stout is as wat hy slim is; ek kan nie help om te dink dat hy ons nog baie probleme gaan gee nie (of "uitdagings", soos die NG kerk se dominees sou gesê het; maar hy (ds.) lees gelukkig nie my blog nie; net my Ma doen).

Hy soek na die doring in sy voet.

Ek gaan niks sê nie, behalwe dat ek nie dink dat daar baie 2-jariges daar buite is wat weet hoe werk 'n maatband nie...



En die donkie sit op die tafel, want die honde pis op hom...



Ek dink ook nie dis die laaste keer wat hy sy kop hard gestamp het nie. Hy hou van hoogtes, dan roep hy jou wanner hy êrens tussen hemel en aarde hang of hoog op iets staan, dan sê hy "Pappa, HOOG!!"; dan vra ek "Wat gaan gebeur"; "afval"; "en dan?"; "huil"..

Hy spring deesda evan die banke af. Ek wonder of hy dieselfde hier oorweeg het? Lyk of hy diepte probeer skat; risk-reward gedagtes het...

Soek jy 'n doring op daai voete...

Dis ons seun, en ons is onmeetlik lief vir hom. Ons sal baie goed moet kry in die volgende 20 jaar om hom mee besig te hou...

En so begin dit...

Ek en my seun het amptelik begin om saam te oefen. Op hierdie stadium is dit nog so bietjie rof en random. Ons sal dalk ekstra moet oefen oor naweke.

Nog 'n bytwond...

Die krapmerke op sy regter wang was Naka - Jan-Hendrik het op hom gespring, en toe byt hy hom. Ek sou ook. So leer almal wat die term "persoonlike ruimte" beteken. Daar is baie maniere om 'n klein seuntjie van 'n eina te laat vergeet. Hierdie is die een wat die beste werk.


Skukuza Half-marathon

Twee naweke gelede - Skukuza 21km; niks geoefen... Almal was daar - die vinnige ouens, ons stadige spul agter, glo 'n luiperd op die teerpad, olifante net buite die oog, maar ons hardloop, en ek moet sê dit was heerlik. 'n Groot voorreg om in die Kruger Wildtuin 'n resies te hardloop. Snaakse woord daai - resies - nie van toepassing op my nie; moet eerder wees 'n genotvolle drafstappie (draf afdraende; stappie opdraende...), maar die medals lyk maar dieselfde as die ou wat amper gewen het; so ons moan nie te veel nie.
Jan-Hendrik het hierdie jaar sy Ma laat bont staan - hy sit nie vir 'n enkele oomblik stil nie; hy hardloop die hele Skukuza vol, speel met almal se speelgoed en honde, drink koeldrank by vreemde vriendelike mense (colour is no issue, yet)... almal help glo oppas, vashou, aftel, troos, ens. Voorwaar 'n besige mannetjie!

Hier is ek aan die einde van my 2uur 43 minute in die son, en dit lyk of ek nou eers gaan begin; lyk nie of ek 'n half marathon agter die rug het nie. Ek wonder hoekom was ek dan so donders moeg. Ek bespeur nie eers 'n ou sweetdruppeltjie nie. Dalk hardloop ek nie vinnig genoeg nie...

Na die tyd (oudergewoonte) gaan dop en braai by die gang se kampplek in Skukuza. Die Erasmus'e, Meneke's, Meyer's, ens. was daar. Probeer om in een middag die land se politieke probleme uit te sorteer; amper daarin geslaag!! Gesukkel om die kind in die kar te kry, en toe die kar in rat te kry. Die pregnant fairy moes toe maar die gesin huis toe neem. Ek en Jan-Hendrik het geslaap tot in Nelspruit, vinnig afgelaai en verder geslaap. Dankie tog die volgende dag was 'n Sondag.
Oom Arthur met van die toekomstige marathonklublede.

Mariet vertel 'n goeie storie; die derde keer; laat in die middag...

Andre hoor dit vir die eerste keer.

Marinda (vol in blom) probeer kos in die resident aap se magie kry, maar hy en die ander seuns is meer geinteresseerd in die stof op die grond en die dorings in die takke.

Heerlike naweek; dis nou twee weke later (julle weet mos die blog is permanent twee weke agter), en ek het nou nog seer spiere van die wedloop. Wedloop is 'n beter woord; wed jou ek gaan êrens loop.