20.8.10

Skukuza Half-marathon

Twee naweke gelede - Skukuza 21km; niks geoefen... Almal was daar - die vinnige ouens, ons stadige spul agter, glo 'n luiperd op die teerpad, olifante net buite die oog, maar ons hardloop, en ek moet sê dit was heerlik. 'n Groot voorreg om in die Kruger Wildtuin 'n resies te hardloop. Snaakse woord daai - resies - nie van toepassing op my nie; moet eerder wees 'n genotvolle drafstappie (draf afdraende; stappie opdraende...), maar die medals lyk maar dieselfde as die ou wat amper gewen het; so ons moan nie te veel nie.
Jan-Hendrik het hierdie jaar sy Ma laat bont staan - hy sit nie vir 'n enkele oomblik stil nie; hy hardloop die hele Skukuza vol, speel met almal se speelgoed en honde, drink koeldrank by vreemde vriendelike mense (colour is no issue, yet)... almal help glo oppas, vashou, aftel, troos, ens. Voorwaar 'n besige mannetjie!

Hier is ek aan die einde van my 2uur 43 minute in die son, en dit lyk of ek nou eers gaan begin; lyk nie of ek 'n half marathon agter die rug het nie. Ek wonder hoekom was ek dan so donders moeg. Ek bespeur nie eers 'n ou sweetdruppeltjie nie. Dalk hardloop ek nie vinnig genoeg nie...

Na die tyd (oudergewoonte) gaan dop en braai by die gang se kampplek in Skukuza. Die Erasmus'e, Meneke's, Meyer's, ens. was daar. Probeer om in een middag die land se politieke probleme uit te sorteer; amper daarin geslaag!! Gesukkel om die kind in die kar te kry, en toe die kar in rat te kry. Die pregnant fairy moes toe maar die gesin huis toe neem. Ek en Jan-Hendrik het geslaap tot in Nelspruit, vinnig afgelaai en verder geslaap. Dankie tog die volgende dag was 'n Sondag.
Oom Arthur met van die toekomstige marathonklublede.

Mariet vertel 'n goeie storie; die derde keer; laat in die middag...

Andre hoor dit vir die eerste keer.

Marinda (vol in blom) probeer kos in die resident aap se magie kry, maar hy en die ander seuns is meer geinteresseerd in die stof op die grond en die dorings in die takke.

Heerlike naweek; dis nou twee weke later (julle weet mos die blog is permanent twee weke agter), en ek het nou nog seer spiere van die wedloop. Wedloop is 'n beter woord; wed jou ek gaan êrens loop.