Ek het hierdie keer baie lank gewag om nuwe fotos op die blog te sit. Onder is al die fotos sedert die begin van 2015. Groete, Piet
20.8.10
Die groot EINA!!
Wimpy parkeerarea by die Grove in Nelspruit!!! Sal ek dit ooit vergeet.... Die man het deesdae die geneigdheid om net skielik te begin hardloop; so vinnig as wat sy kort beentjie hom kan dra. Ek en Marinda staan en betaal vir die Wimpy ontbyt, en meneer drentel om my bene rond; vat toe skielik die pad, by die deur uit, en hy sprint soos 'n ene Bolt oor die parkeerarea (gelukkig geen karre nie), struikel oor die randsteen net voor die regte pad (met karre), en DONDER neer (met my in top vorm, doing a personal best, op sy hakke maar nog oortuigend tweede (dus laaste), net betyds om hom (skreeu soos 'n bobbejaan wat deur 'n luiperd plat getrek is) op te tel ten aanskoue van die hele Nelspruit (ou tannies skud hul %&^*!! bliksemse koppe en prewel iets oor "sommige onverantwoordelike ouers"). Die knop was onmiddelik daar, nerf af, bloed loop, meng met die trane oor die wange; en Mamma is vir my die moer in... Ek onderneem om hom 'n pak slae te gee oor hierdie gehardloop ding, maar besef toe hy het werklik seer gekry en troos hom toe vir 'n uur. Kom ons sê maar net dat 'n heerlike Saterdag in 'n kakkerige een verander het.
Gelukkig was die volgende dag Sondag, en kinders herstel verbasend vinnig. Die groot EINA!! het toe 'n baie prominente talking point in ons huis geword. Die gesprekke gaan so: "Pasop jy gaan ...", dan sê hy "afval", en dan vra ek "Wat dan?" dan sê hy "huil". Sy ander gunsteling sêding deesdae is "groot mes", en dan hardloop hy flat out met 'n moerse mes in 'n rigting. Sy gat het al per geleentheid lekker gebrand hieroor.
STOUTGAT!!!
Mens kan sommer sien dat hy so stout is as wat hy slim is; ek kan nie help om te dink dat hy ons nog baie probleme gaan gee nie (of "uitdagings", soos die NG kerk se dominees sou gesê het; maar hy (ds.) lees gelukkig nie my blog nie; net my Ma doen).
Ek gaan niks sê nie, behalwe dat ek nie dink dat daar baie 2-jariges daar buite is wat weet hoe werk 'n maatband nie...


En die donkie sit op die tafel, want die honde pis op hom...


Ek dink ook nie dis die laaste keer wat hy sy kop hard gestamp het nie. Hy hou van hoogtes, dan roep hy jou wanner hy êrens tussen hemel en aarde hang of hoog op iets staan, dan sê hy "Pappa, HOOG!!"; dan vra ek "Wat gaan gebeur"; "afval"; "en dan?"; "huil"..
En so begin dit...
Nog 'n bytwond...
Skukuza Half-marathon
Twee naweke gelede - Skukuza 21km; niks geoefen... Almal was daar - die vinnige ouens, ons stadige spul agter, glo 'n luiperd op die teerpad, olifante net buite die oog, maar ons hardloop, en ek moet sê dit was heerlik. 'n Groot voorreg om in die Kruger Wildtuin 'n resies te hardloop. Snaakse woord daai - resies - nie van toepassing op my nie; moet eerder wees 'n genotvolle drafstappie (draf afdraende; stappie opdraende...), maar die medals lyk maar dieselfde as die ou wat amper gewen het; so ons moan nie te veel nie.
Jan-Hendrik het hierdie jaar sy Ma laat bont staan - hy sit nie vir 'n enkele oomblik stil nie; hy hardloop die hele Skukuza vol, speel met almal se speelgoed en honde, drink koeldrank by vreemde vriendelike mense (colour is no issue, yet)... almal help glo oppas, vashou, aftel, troos, ens. Voorwaar 'n besige mannetjie!
Hier is ek aan die einde van my 2uur 43 minute in die son, en dit lyk of ek nou eers gaan begin; lyk nie of ek 'n half marathon agter die rug het nie. Ek wonder hoekom was ek dan so donders moeg. Ek bespeur nie eers 'n ou sweetdruppeltjie nie. Dalk hardloop ek nie vinnig genoeg nie...
Na die tyd (oudergewoonte) gaan dop en braai by die gang se kampplek in Skukuza. Die Erasmus'e, Meneke's, Meyer's, ens. was daar. Probeer om in een middag die land se politieke probleme uit te sorteer; amper daarin geslaag!! Gesukkel om die kind in die kar te kry, en toe die kar in rat te kry. Die pregnant fairy moes toe maar die gesin huis toe neem. Ek en Jan-Hendrik het geslaap tot in Nelspruit, vinnig afgelaai en verder geslaap. Dankie tog die volgende dag was 'n Sondag.
Oom Arthur met van die toekomstige marathonklublede.
10.8.10
Ons nuutste babafotos!!!!!!!!!!!
Glo is sien, so sê hulle. Dit voel nog so effens onwerklik, maar JA, die volgende een is oppad. Hier is die sonar fotos wat ons het van no.2.
----------------------------------------
Marinda het die Comrades gehardloop met 'n ekstra paar bene. Ons was bekommerd oor Ma en Baba se welstand, en het sodra ons terug in Nelspruit was vir Dr Pieter gaan sien. Soos julle kan sien - 'n baie vroeë swangerskap; hier ongeveer 8 weke! En alles werk 100% - kyk daai hartkloppie. Ongelooflik! Ons is so ongelooflik gelukkig en geseënd.
----------------------------------------
Marinda het die Comrades gehardloop met 'n ekstra paar bene. Ons was bekommerd oor Ma en Baba se welstand, en het sodra ons terug in Nelspruit was vir Dr Pieter gaan sien. Soos julle kan sien - 'n baie vroeë swangerskap; hier ongeveer 8 weke! En alles werk 100% - kyk daai hartkloppie. Ongelooflik! Ons is so ongelooflik gelukkig en geseënd.

Hier lyk die kleintjie baie meer soos 'n mens - fotos geneem met ons mees onlangse besoek - op ongeveer 13 weke; ons sien die rugstringetjie, koppie, neusie, hartjie, en al die ander organe wat normaal lyk, maar ons mis een - lyk soos 'n dogtertjie op hierdie stadium; so bietjie te vroeg om met sekerheid te sê, maar daar is mooi gekyk, en kleintjie lê mooi; maar geen slurpie sigbaar nie. Lyk my ek gaan die Pa van 'n dogter wees!!!!! Ek is vreeslik gelukkig. Elke Pa (glo ek) moet 'n dogter hê, en elke seun moet 'n sussie hê (ter wille van beskaafdheid, né).
9.8.10
Jan-Hendrik se eerste fotos...
Dit is wat gebeur as 'n amper-tweejarige jou kamera in die hande kry... En daar is seker nog 'n 100 fotos wat ek nie gaan publiseer nie. Hy weet deesdae waar alles is, en hoe alles werk - kragproppe, die boor, kamera se flash, yskas se ys dispenser, MNET remote, ens. En hy is MAL oor C-beebies (ek dink die spelling is verkeerd); hy huil elke keer diep emosioneel / erg ontsteld as 'n storietjie verby is, en dit van ons gewoonlik 2 of 3 minute om te verduidelik dat daar nou 'n nuwe storie gaan wees, en dat die selfde Beebies maatjies môre weer op die TV gaan wees.. 'n Vreeslike spesiale kind voorwaar!!
Laeveld day trips
Daar is baie voordele aan om in die Laeveld te bly. Een van ons gunstelinge is om vir 'n dag lank net deur die wildtuin te gaan ry (sonder om iets te verwag, of om na iets te gaan soek...). Jan-Hendrik hou ook daarvan; so lyk dit; hy moan nie te veel nie; kyk vir die diere; maak geluide; slaap...
Dit is werklik een van die meer spesiale plekke in die land; heerlik om net stadig te ry, rond te kyk, honderde fotos te neem; te reverse vir klippe wat soos leeus lyk; die wonderlike skepping te geniet in sy onversteurde vorm.
Fotos t eneem van goed wat sigbaar is; nie bang vir mense is nie; dieselfde vleiloeries wat in ons tuine is (ook in die tuin van my ma in Potch), maar wanneer sit mens ooit stil genoeg om hulle so mooi te sien?
Die bekende foto by die dam by Laer Sabie. Ek dink ek het hierdie foto al 'n duidend keer geneem, en dit bly pragtig!


Ou grote lê en slaap (het darem nog sy horing...)
Die riviere is oor die algemeen maar leeg, maar die veld is verbasend groen en ruig vir dié tyd van die jaar.
En meneer kyk vir die leeus onder die brug. Hy het vreeslik geskreeu toe ons besluit om hier te ry. Het 'n verskriklike scene opgesit...
Subscribe to:
Posts (Atom)



