4.8.10

Tuis...

Hoe lyk dit deesdae by ons huis? Die jungle gym is so-te-sê klaar; moet net geverf word; kort nog een swing. En glo my - die ding word elke dag vir ure lank gebruik - deur Jan-Hendrik en deur die bure se dogtertjie, Nanie (want sy roep die hele middag vir Marinda, die Tannie); eintlik is haar naam Therese. Vreeslike oulike blonde kop kind; obviously baie slim. Sy en Jan-Hendrik is best buddies. Sy noem hom haar babatjie... Hy is mal oor die aandag. Sy is mal oor sy speelgoed (hamers, bore, etc.) Hier is die man; mal oor fotos neem. Staan altyd met sy voetjies styf teen mekaar vir 'n foto... Sy woordeskat is deesdae baie wyd - begin nou al met "bus", "kar", "pappa happy", etc., maar die diertjies word meestal genoem op hulle geluidjies, soos "tietietie" vir 'n voëltjie, "hoehoe" vir uil, "haha" vir hadida, etc. Baie slim kind; check daai mooi groot voorkop!! Ek dink hy's oud genoeg vir Genesis. Ek sal gaan soek vir 'n lekker dik kinderbybel.
Ons het die laaste ruk te veel rotte op die dak - rotmense ingekry; R500 later, en siedaar, MEER rotte. Ek sal hulle more bel. Ek het ook 'n boomsnyer (tree feller) ingebring om bietjie die bome weg van die huis af te sny; hier en daar 'n ongewensde boom uit te haal (soos die kareeboom voor die TV kamer venster; nou kom daar weer bietjie lig in die huis; wonderlik).


Marinda maak nuwe tuin agter die jungle gym; ons het al die oorgroei daar uitgehaal; die tuin lyk sommer heelwat groter... Jan-Hendrik help; probeer help; maak sy ma die moer in...


Ten minste eet ons soms gesond.


Niks soos 'n lekker Chardonnay saam met vrugtestokkies nie.
Jan-Hendrik reken Chardonnay proe maar baie soos badwater...

Swembad se vordering

Die swembad is eintlik al heeltemal klaar (behalwe vir die elektrisiteit na die lig). My rekenaar was net buite aksie vir 'n paar weke; dus is die blog so rapsie oud.

Die swembad se projek was regtig sonder enige hickups of klagtes. Hierdie manne weet wat hulle doen, en ek is baie gelukkig dat hierdie job lank gaan hou. Hierdie fotos is geneem die dag nadat al die plyster werk voltooi is. Baie areas was nog nat, dus die kleurverskille, maar die uiteindelike produk is uitstekend. Die bad is uitgevoer met 'n baie lig grys, en met die water in lyk dit pragtig - ligblou, amper see groen/blou; en die teels komplementeer al die kleure rondom die swembad uitstekend - hout, bome, bosse...


Madam inspekteur met 'n kritiese oog en sien niks verkeerd nie (ek is gelukkig; sy is gewoonlik moeilik oor hierdie tiepe goed). Jan-Hendrik is ook baie geinteresserd met alles. Ek is net bang hy kry 'n hamer in die hande en begin van voor af kap-kap-kap; of gooi klippe in die swembad. Ons sal hom maar aanspreek of voeter...

Kyk net my pragtige family!!!

Die swembad is groter en dieper as wat mens dink!


Alles net vir jou, jou boetie/sussie, en jou Mamma, Jan-Hendrik. Onthou sy gaan ver swanger wees teen mid-somer. Shame!!




Ons kan nie wag dat dit weer swemseisoen is nie!! Ons wil ons nuwe swembad begin gebruik!! Hierdie somer sal ek vir Jan-Hendrik oordentlik leer swem.

16.7.10

Kinderpartytjie met 'n twist...

Klein Zuné Scheepers word 2. Die partytjie is pragtig en almal geniet hulle self. JH gedra hom baie mooi en eet (soos altyd) met oorgawe.
Kyk hoe mooi en soet sit my seun en sy kossies. Daar is nie 'n stout been in sy lyfie nie.
En die partytjie is net so lekker vir al die mammas. Die pappas staan buite; drink bier en praat oor hul slegte skuld en Prado's (prokureurs...)

Hier kom die ding - daar is twee honde - Jack Russels - lyk amper soos Naka en Rassie, en ek dink Jan-Hendrik kon nie die onderskeid tref tussen bekend en vreemd nie. Hy was ook die enigste kind wat enigsins aandag aan die honde gegee het - hy wou hulle ook maar net soen en druk (soos hy met Naka en Rassie speel by die huis). Ek het gedink so iets kan dalk gebeur maar wou niks sê nie. Dalk sou dit beter gewees het om die honde toe te maak vir die twee ure van die partytjie, maar dit lyk my ander mense deel nie my vrees vir hondbyte nie; dalk omdat ek first hand geleer het hoe 'n gevaarlike en onvoorspelbare ding 'n hond kan wees... vra die Griek (dis 'n hele ander storie...).

Een bedonderde hond; een huilende kind; bloed oral - kind gebyt in die gesig; MY kind; en net ek en Marinda is bekommer daaroor. Mens wonder hoe sou die res van die mense opgetree het sou dit hulle kind was wat in die gesig gebyt is. Maar OK, dit kon heelwat erger gewees het, en soos ek hier sit moet ek erken dat die kind se liggaam ongelooflik genees - die merke is so-te-sê weg (1 week later). Dankie tog. Na die hond hom gebyt het, het hy so 10 minute gehuil; toe wil hy weer met hulle gaan speel. Ons het onsself vroegerig verskoon en gaan Savlon koop. Ter wille van vrede en vriendskap dalk die regte optrede. Die honde se eienaars het sekerlik die les geleer.
Maar almal is OK. JH het 'n storie om te vertel... Ek lag maar net, want die eienaar van die hond doen glo derde party werk en siviele eise (soos hondbyte...). Die hond het glo 'n seer rug; dis seker die kind se skuld...

Jan-Hendrik se eerste haarsny!!

My hare was vreeslik lank toe vra ek Marinda om dit te sny. Die mannetjie het die ding mooi uitgekyk, en toe ook gavra dat ons sy hare moet sny. Stil gesit en dit obviously baie geniet. Hy lyk pragtig sonder die wolletjies - 'n regte seuntjie!

Die swembad kry 'n face lift!!

Hierdie was 'n projek wat ons nie langer kon uitstel nie. Die vloer van die swembad het nou lelik begin afkom. Ons het gelukkig 'n baie nice ou gekry om die werk te doen; hulle vorder vreeslik vinnig dankie tog. Dalk oor so 'n week of twee het ons 'n nuwe swembad!!

Lekker by die huis; lekker om klein te wees...

Dis lekker by ons huis. Dis die lekkerste plek in die wêreld! Geen wonder ek kan elke middag nie wag om by die huis te kom nie, want mister man (soos Gill Stroebel hom noem) en sy ma is by daardie huis!
En die kombuistafel is een van sy favourite speelplekke. Hy sukkel om onderskeid te tref tussen 'n appel en 'n bal. Dan gooi hy maar beide. Ons het nie lekker eetbare appels in ons huis nie. Ons moet ons appels vir hom wegsteek.
Verspot!!

Kyk hoe lief is hy vir Naka. Dis 'n wonderlike hond. Hy is ook mal oor Jan-Hendrik. Hy (JH) druk en soen ou Naka - dood happy... goeie hond. Rassie is egter 'n jaloerse hond. Mens moet hom mooi dophou. Hy grom vir JH. Ek wag net dat JH groot genoeg is om vir Rassie oordentlik te skop - die verhouding en die hierarchy sal normaliseer met tyd. Eintlik wil die twee honde mekaar doodmaak as JH te veel aandag aan Naka gee. Ek is net bang hy kom tussenin en word gebyt. Gepraat van hondbyte - kyk later!

Ek kan nie wag dat hy 4 word nie. Hy stel regtig belang. Hy luister as ek viool speel (so lanklaas geoefen; seker nie meer mooi nie); ek dink ek en hy en sy sussies gaan lekker musiek maak eendag.
So lyk dit van bo af - mooi, né...

Ek en Jan-Hendrik bou die Jungle Gym

Agter in die erf is (was) die grootste delicious monster in die Laeveld. Dit is (was) baie mooi en groen, maar dit het die spasie agter vreeslik beperk - speelplek was maar min. Ons het besluit om die gedierte uit te haal en stukke daarvan uit te plant teen die muur. Dit sal goed vaar - baie son, water, kompos, ens. Maar dit was nou 'n job en 'n half. Mens dink dis 'n sagte groenblaar plant, maar dis 'n wetter. Ek het my gat af gewerk om die plant, al sy duisende wortels uit te haal. Ek het nuwe respek gekry vir die term "wortel-en-tak". Ek was teen daardie stadium omtrent 3 weke ernstig in die gym - sterk gevoel, maar dit was die seerste lyf waarmee ek gaan slaap het. Gym kom nie by dit nie. Letterlik back-breaking werk... Gelukkig het ek 'n baie ywerige helpertjie gehad. Hy het letterlik elke minuut saam met my deurgebring in die tuin - tussen die blare, takke, wortels, sement, teerpale... 'n Pa-seun bonding exercise soos min.
Hy was baie erg oor die tuinsker. Ek het sy gat ook maar 'n paar keer geslaan, want hy dra al die tools weg.

En die ou boomstam moes ook maar gaan. Was glo 'n reuse kapokboom so 20 jaar gelede. Sy einde ontmoet in 'n vreeslike storm. Sedertdien het dit wel 'n goeie doel gedien - die houtkappertjies het kom nesmaak in die boom se stam, maar dit het nou finaal gevrot, soos papier - ek kon die boomstam letterlik met een hand omstoot.
My ywerige helper. Wil met alles speel wat die heel gevaarlikste is...
Aan die einde van die dag - ekstra 60 vierkante meter vir die bou van Boeta se speelplek!
Baie in sy noppies. Wat 'n pragtige kind!!!!
En hier begin ons - gate grawe is die moeilikste deel van die projek, want dit moet ten minste 60cm diep wees, en die grond raak vreeslik hard so 40cm in; vreeslike klippe.

Die pale is mooi regop geplant; die beplanning was haarfyn gedoen, en ten spyte daarvan was die eind resultaat maar lekker simmetries onsimmetries - ewe skeef na beide kante toe; so dit lyk reg (maar ek weet).
En Boeta is daar om my te help sement meng. Hy het 'n saag gevat en die sement ge"sny". Grond terug gegooi in die gate in; die tuinslang die hele tyd rond gesleep. Ek weet nou nog nie waar my maatband is nie. Ek gebruik nou maar my oë en ek meet af in voete of treë. Vandaar die effe unieke skeefheid van die gebou, of soos Jan-Hendrik daarna verwys as sy huisjies (huisie). My Ma verwys na 'n jungle gym as 'n Jimmy jungle, so ons doop ons jungle gym "Jimmy se huisjies" anno 2010.
Ja, dis alles sement...

Kyk waar hang daai tottertjie...
Die huisie soos dit tans lyk. More bou ek die swings aan die linkerkant vas, en ek sal vir Sunnyboy aansê om dit te verf volgende week.
Die man is baie impress met sy nuwe speelplek. Moenie worrie nie Ouma; dis redelik veilig.

Die latte is so 15cm uit mekaar uit. Hy gaan met baie moeite daar deur klim, maar voordat hy dit regkry sal sy gat reeds geslaan wees.

Dit is eintlik vreeslik lekker om hierdie tyd van die jaar buite in die tuin te wees; dis nie te warm nie; daar is vreeslik baie voëls in die bome; baie bome en ander plante blom; winter in die Laeveld is fantastic.