'n Paar dae gelede, met die eerste voet deur die deur terug van die werk af sê Marinda vir my dat "Rassie 'n fight verloor het"; en ek visualiseer al 'n hond wat vol gate gebyt is deur een van die honde in die straat, of dat hy geskop is deur een van die bobbejane wat soms op en af in ons strate loop...
Buite sit 'n effe patetiese hondjie met toe-geswelde ogies, en die vrees wat ek nog al die jare onderdruk het spring na die oppervlakte... F%kkit!! Spoegkobra!! In my erf!! Waar Jan-Hendrik speel!!
En ek dink aan die vele kere wat ons Jan-Hendrik alleen buite laat rondloop het om te verken omdat die agtererf (so glo ons) "toe" en "veilig" is...
Ek laai die patetiese en effe bewerige hond in my bakkie (dis nou natuurlik net hare waar jy kyk) en gaan kuier vir ou John Luyt (ons veearts; woon net so twee blokke weg; altyd daar behalwe op Woensdagmiddae wanneer hy gholf speel; onbeskikbaar op Wonesdagmiddae nou al vir seker 55 jaar).
"No doubt, Piet, Mozambican spitting cobra..." en hy was Rassie se ogies uit; Rassie effe weerstandbiedend, brand seker vreeslik.
En hy gooi steroied oogdruppels in beide oë (mens kan net-net die ogies oopkry, shame).
"Try not to use all of this", en hy gee die buisie vir my, "and store it somewhere cool so you can use it next time"... next time... dit pla my.
"and don't use it on the kids"...
en ek bespeur nie 'n glimlag of 'n grin nie. Hy is ernstig...
En hy weier om enige geld by my te vat vir die besoek en die medisyne nie. "I don't have an oversized 4x4 to pay off, Piet", sê hy en sien ons af...
Vreemde ervaring.
Rassie was die volgende oggend al heelwat beter.