10.8.10

Ons nuutste babafotos!!!!!!!!!!!

Glo is sien, so sê hulle. Dit voel nog so effens onwerklik, maar JA, die volgende een is oppad. Hier is die sonar fotos wat ons het van no.2.
----------------------------------------
Marinda het die Comrades gehardloop met 'n ekstra paar bene. Ons was bekommerd oor Ma en Baba se welstand, en het sodra ons terug in Nelspruit was vir Dr Pieter gaan sien. Soos julle kan sien - 'n baie vroeë swangerskap; hier ongeveer 8 weke! En alles werk 100% - kyk daai hartkloppie. Ongelooflik! Ons is so ongelooflik gelukkig en geseënd.

----------------------------------------
Hier lyk die kleintjie baie meer soos 'n mens - fotos geneem met ons mees onlangse besoek - op ongeveer 13 weke; ons sien die rugstringetjie, koppie, neusie, hartjie, en al die ander organe wat normaal lyk, maar ons mis een - lyk soos 'n dogtertjie op hierdie stadium; so bietjie te vroeg om met sekerheid te sê, maar daar is mooi gekyk, en kleintjie lê mooi; maar geen slurpie sigbaar nie. Lyk my ek gaan die Pa van 'n dogter wees!!!!! Ek is vreeslik gelukkig. Elke Pa (glo ek) moet 'n dogter hê, en elke seun moet 'n sussie hê (ter wille van beskaafdheid, né).

Die gesiggie van die kant af - wipneusie en al... sal nog baie verander met die tyd; ek bid vir 'n dogter soos haar ma; ek sou vreeslik graag vir Marinda wou ken as 'n kind; moes 'n treat gewees het.
Femur lengte - slegs 10,9mm (dis 1cm!!!). Kan dit nie glo nie... Ongelooflik! Ons sien Pieter weer mid-September; sal dan met sekerheid weet of ek eendag vir 'n matriek-afskeidrok sal moet betaal, of nie...

9.8.10

Jan-Hendrik se eerste fotos...

Dit is wat gebeur as 'n amper-tweejarige jou kamera in die hande kry... En daar is seker nog 'n 100 fotos wat ek nie gaan publiseer nie. Hy weet deesdae waar alles is, en hoe alles werk - kragproppe, die boor, kamera se flash, yskas se ys dispenser, MNET remote, ens. En hy is MAL oor C-beebies (ek dink die spelling is verkeerd); hy huil elke keer diep emosioneel / erg ontsteld as 'n storietjie verby is, en dit van ons gewoonlik 2 of 3 minute om te verduidelik dat daar nou 'n nuwe storie gaan wees, en dat die selfde Beebies maatjies môre weer op die TV gaan wees.. 'n Vreeslike spesiale kind voorwaar!!

Laeveld day trips

Daar is baie voordele aan om in die Laeveld te bly. Een van ons gunstelinge is om vir 'n dag lank net deur die wildtuin te gaan ry (sonder om iets te verwag, of om na iets te gaan soek...). Jan-Hendrik hou ook daarvan; so lyk dit; hy moan nie te veel nie; kyk vir die diere; maak geluide; slaap... Dit is werklik een van die meer spesiale plekke in die land; heerlik om net stadig te ry, rond te kyk, honderde fotos te neem; te reverse vir klippe wat soos leeus lyk; die wonderlike skepping te geniet in sy onversteurde vorm.
Fotos t eneem van goed wat sigbaar is; nie bang vir mense is nie; dieselfde vleiloeries wat in ons tuine is (ook in die tuin van my ma in Potch), maar wanneer sit mens ooit stil genoeg om hulle so mooi te sien?

Die bekende foto by die dam by Laer Sabie. Ek dink ek het hierdie foto al 'n duidend keer geneem, en dit bly pragtig!


Ou grote lê en slaap (het darem nog sy horing...)

Die riviere is oor die algemeen maar leeg, maar die veld is verbasend groen en ruig vir dié tyd van die jaar.

En meneer kyk vir die leeus onder die brug. Hy het vreeslik geskreeu toe ons besluit om hier te ry. Het 'n verskriklike scene opgesit...
Geneem deur die karvenster; so 20km voor Skukuza op die Satara pad.


Met 'n vorige besoek aan die wildtuin (omtrent so 'n maand gelede - net ek, DJ en Elmien) het ons net so lekker wild gesien.


Twee pragtige jagluiperde gesien, so halfpad tussen Laer Sabie en Krokodilbrug, op die Oostelike grondpad; in die middel van nêrens... Ons drie lekker gesuie aan 'n bottel Pinotage - sommer so uit die bottel; glase vergeet...

4.8.10

Tuis...

Hoe lyk dit deesdae by ons huis? Die jungle gym is so-te-sê klaar; moet net geverf word; kort nog een swing. En glo my - die ding word elke dag vir ure lank gebruik - deur Jan-Hendrik en deur die bure se dogtertjie, Nanie (want sy roep die hele middag vir Marinda, die Tannie); eintlik is haar naam Therese. Vreeslike oulike blonde kop kind; obviously baie slim. Sy en Jan-Hendrik is best buddies. Sy noem hom haar babatjie... Hy is mal oor die aandag. Sy is mal oor sy speelgoed (hamers, bore, etc.) Hier is die man; mal oor fotos neem. Staan altyd met sy voetjies styf teen mekaar vir 'n foto... Sy woordeskat is deesdae baie wyd - begin nou al met "bus", "kar", "pappa happy", etc., maar die diertjies word meestal genoem op hulle geluidjies, soos "tietietie" vir 'n voëltjie, "hoehoe" vir uil, "haha" vir hadida, etc. Baie slim kind; check daai mooi groot voorkop!! Ek dink hy's oud genoeg vir Genesis. Ek sal gaan soek vir 'n lekker dik kinderbybel.
Ons het die laaste ruk te veel rotte op die dak - rotmense ingekry; R500 later, en siedaar, MEER rotte. Ek sal hulle more bel. Ek het ook 'n boomsnyer (tree feller) ingebring om bietjie die bome weg van die huis af te sny; hier en daar 'n ongewensde boom uit te haal (soos die kareeboom voor die TV kamer venster; nou kom daar weer bietjie lig in die huis; wonderlik).


Marinda maak nuwe tuin agter die jungle gym; ons het al die oorgroei daar uitgehaal; die tuin lyk sommer heelwat groter... Jan-Hendrik help; probeer help; maak sy ma die moer in...


Ten minste eet ons soms gesond.


Niks soos 'n lekker Chardonnay saam met vrugtestokkies nie.
Jan-Hendrik reken Chardonnay proe maar baie soos badwater...

Swembad se vordering

Die swembad is eintlik al heeltemal klaar (behalwe vir die elektrisiteit na die lig). My rekenaar was net buite aksie vir 'n paar weke; dus is die blog so rapsie oud.

Die swembad se projek was regtig sonder enige hickups of klagtes. Hierdie manne weet wat hulle doen, en ek is baie gelukkig dat hierdie job lank gaan hou. Hierdie fotos is geneem die dag nadat al die plyster werk voltooi is. Baie areas was nog nat, dus die kleurverskille, maar die uiteindelike produk is uitstekend. Die bad is uitgevoer met 'n baie lig grys, en met die water in lyk dit pragtig - ligblou, amper see groen/blou; en die teels komplementeer al die kleure rondom die swembad uitstekend - hout, bome, bosse...


Madam inspekteur met 'n kritiese oog en sien niks verkeerd nie (ek is gelukkig; sy is gewoonlik moeilik oor hierdie tiepe goed). Jan-Hendrik is ook baie geinteresserd met alles. Ek is net bang hy kry 'n hamer in die hande en begin van voor af kap-kap-kap; of gooi klippe in die swembad. Ons sal hom maar aanspreek of voeter...

Kyk net my pragtige family!!!

Die swembad is groter en dieper as wat mens dink!


Alles net vir jou, jou boetie/sussie, en jou Mamma, Jan-Hendrik. Onthou sy gaan ver swanger wees teen mid-somer. Shame!!




Ons kan nie wag dat dit weer swemseisoen is nie!! Ons wil ons nuwe swembad begin gebruik!! Hierdie somer sal ek vir Jan-Hendrik oordentlik leer swem.