23.1.10

Aan die einde van die wynproe...

Dit was 'n wonderlike aand!! Die wyn was heerlik en die geselskap nog beter. Ons het vanaand 4 Rieslings geproe (Schlumberger uit Alsace, Gruveldange uit Luxenburg, Klein Constantia, Hartenberg), en dan 3 great Chardonnays (Glen Carlou, Rupert en sy pel, Spier (dubbel goud)).
Die seleksie van die wyne was 'n absolute treffer!! Almal het dit vreeslik geniet, en die kos!!! Wat kan ek sê... My vrou is 'n absolute WENNER!! Sticky lek-jou-vingers-af chicken, en baie daarvan!!
Hier is Paul en Jacques in 'n lekker besope toestand aan die einde van die aand.

En Hendrik Toerien, Oom Noel, my Ma, Andre Pistorius, Jacques Eybers en Paul in die agtergrond..

En ou pelle - my Pa en Oom Paul. Ook vreeslik vriendelik.

Oom Noel analyze nog so bietjie, en Andre lyk vir my maar lekker blink gedrink.

'n Heerlike eerste wynproe geleentheid vir ons by Millerstraat 13, en 'n baie goeie begin vir die jaar! Die standaard en die verwagting is baie hoog, manne. Uithaal en wys, sê ek.

Die huis lyk by die dag beter...

Ons skarrel nou al weke om die huis te laat nog beter lyk vir die wynproe geleentheid by ons huis, Donderdag 21 Januarie.
En die tafel op die stoep wat ons laasweek Vrydag begin bou het was 'n reuse sukses - groot genoeg vir 11 volwasse mans! Pragtige donker duursame hout.

Ek het 'n paar kroegstoeltjies by die marathonklub gaan leen. Dankie Hendrik van Dyk (voorsitter). Dit lyk of dit hier hoort. Ek sal vir my gaan barstoeltjies koop sodar daar weer bietjie geld is.



"Nite" race by die marathonklub.

Woensdagmiddag laat, en sy ma gaan 'n blitsvinnige 10km hardloop. Kyk hoe kyk hy vir al die mense.Die mannetjie was mal oor die groot Coke trok wat die musiek gemaak het; julle moet sien hoe vang hy die beat met sy heupies. Almal kyk vir hom, sommiges neem fotos.


Ek het verskriklik rondgehardloop agter hom aan; ek voel amper dat ek ook 'n medalje moes kry aan die einde van die aand!!



17.1.10

Die naweek wat verby is ...

Vrydag was die eerste Lowveld-Docs gholfdag vir die jaar. Rampspoedig begin vir Marinda - ons het 'n babysitter gereel (Stacy Bockel), maar toe ons wil ry toe breek Jan-Hendrik die huis af. Toe maak ons die fout en vat hulle (baby en -sitter) saam gholfbaan toe, en daar het hy toe die gholfbaan omtrent afgebreek. Marinda was terug by die huis nog voor die starter haar naam genoem het...

-------------------------------------
Ek is vreeslik bly die plumbing was 'n sukses. Die pomp is terug op sy plek, doen sy werk; die swembad is skoon, en die watervlak by waar hy is. OORWINNING!!
-------------------------------------
Ja - ons bou al weer, maar die keer 'n klein projekkie wat MOET klaar wees voor die groot wynproe by ons huis Donderdagaand. Ons bou 'n "kroeg" op die stoep; met 'n bree houtblad bo-op. Ek dink dit gaan baie lekker wees, en die kinders gaan waarskynlik hier sit en hulle huiswerk doen eendag.


-------------------------------------
Saterdag was on by Theuns Meyer se 4'e verjaardag. Die maatjies was dalk te groot vir Jan-Hendrik, maar hy het nog steeds sy bes gedoen om saam te speel. Ek dink hy besef ook sy beperkinge.


-------------------------------------
Die ou groen jeep het vir baie opwinding (en trane) gesorg. Hulle het baie vinnig die toeter ontdek, en dit was nie lank nie toe wil die laaities weet hoe "start" die ding... Suzette en Deon het hulle hande vol gehad. Ons ook.
-------------------------------------
Jan-Hendrik was mal oor die vliegtuig - effe besitlik oor die pilot se sitplek; in die son - sy skouertjies het 'n bietjie gebrand, want later was dit sommer kaalgat (net met 'n doek) in en uit die water; op en af die vliegtuig.

-------------------------------------
Theunsie se vliegtuigkoek het erg deurgeloop. Geen genade vir 'n ding met so baie suiker op nie!!

-------------------------------------
En al die mooi mammies wat so rond sit en son kry. Tog te fraai...

-------------------------------------
Daar is ernstig rugby gespeel ..

-------------------------------------
En sommiges het op die paveljoen gesit en raad gee ...

-------------------------------------
En toe begin die swemmery en glyery. Daar was 'n nes van gladde wit lyfies op daai glybaan; en Deon gooi net wasgoedseep op om dit nog gladder te kry. En Jan-Hendrik was glad nie skaam nie. Ek het hom 'n paar keer lekker rof en vinnig ook daar afgegooi. Hy het dit baie geniet.

-------------------------------------
Vrek vuil en vrek moeg het ons later huis toe gegaan en almal verder gaan slaap.

-------------------------------------
Jan-Hendrik het ook sy beurt agter die stuurwiel van die jeep gekry. Kyk waar hang daai doek (van swembadwater)!!

-------------------------------------
Vandag het ons drie 'n rustige rondte gholf gaan speel. Jan-Hendrik is baie soet op die gholfbaan. Hy wil nie die hele pad op die karretjie ry nie, en hy het lang ente geloop en gehardloop. Selfs 'n paar shots gehad met sy eie gholfstok. Dit was 'n heerlike dag - bewolk maar tog warm.

-------------------------------------
En die gholfbaan is pragtig - goed versorg, en vreeslik groen.

Wat hierdie week vir ons wag is die kuiertjie van my Pa-hulle met die twee Belge (Oom Paul & Noel), en dan ook die wyngilde se vergadering hier by ons huis Donderdagaand. Dit gaan 'n besige week wees!!


14.1.10

My netjiese lab!!

Ek het besluit om vandag 'n klomp fotos te neem van die laboratorium. Dit is so 'n jaar gelede heeltemal oorgedoen, en ek dink dit lyk baie netjies; nogal modern. Die ingang gee al klaar 'n professionele indruk aan die besoeker. Dit moet lekker wees om hier jou bloed te laat trek...
--------------------------------------
Die histologie lab is nogal klein, maar baie funksioneel. Dit is heeltemal apart van die groot kliniese lab (en dis nogal hoe ons by histologie dit verkies).

--------------------------------------
Die histologie deursitarea waar die monsters beskryf en geprosesseer word.

--------------------------------------

Die kliniese lab - op dieselfde styl gebou - 'n oop plan lab met moderne features, nuwe masjiene, baie lig, groot vensters vir baie natuurlike lig. Ek dink dit is die mooiste lab in die Ampath groep.

--------------------------------------
En dan bestaan die lab natuurlik uit mense. Hier is Susan (of Sexy Susan soos ons na haar verwys). Sy doen al die sitologie (Papsmere) in die lab.

--------------------------------------
Ou Tony doen net mikrobiologie - hy werk dus nog steeds net met goggas. Ek het gehoor hy het 'n lang string grade in entomologie (insek-kunde), en ek dink hy het net 'n aftree-werkie kom soek in 'n mediese lab.

--------------------------------------
En my slim kollega - Reinette du Plessis. As ek iets nie weet nie, dan vra ek haar. (Sy kom vra my darem ook af-en-toe 'n opinie..)

--------------------------------------
Die lab bestuurder - Ria. Sy is die een wat alles en almal run. Sy is die baas. Sy sal nogal daarvan hou om te hoor dat ek so na haar verwys.

--------------------------------------
En ek sit in die corner office, met 'n deurmekaar tafel, 'n smart mikroskoop, en hope werk. Lekker!!

--------------------------------------
Die lewe van 'n histopatoloog is regtig nie sleg nie. Ons werk nie met pasiente nie - hulle griewe, vrae, angs, onsekerhede is goed wat ons tweede plaas; ons sê wat ons sien, en ons sê dit net soos dit is, en sodoende word die pasient op die vinnigste en beste manier gehelp. Ek is mal oor my werk, en ek het nog nooit 'n histopatoloog raakgeloop wat nie so voel nie.

13.1.10

Piet speel plumber!!

Die fitting tussen die pomp en die filter het gebreek, waarskynlik toe hy geskuif is na sy huidige rusplek. Die gebreekte fitting is op die vashouplek waarby iemand (sal nie sê watter bouer nie) die filter moes optel...
Plumbing is nie moeilik nie - mens kort net geduld, en jy moet nie omgee om vuil te word nie...

Die kind het wysheid verby sy jare. Hy dring aan op die gebruik van 'n veiligheidsbril...

Jan-Hendrik het my bygestaan deur aan die nat fittings te peuter, en met die skroewedraaier aan die filter te kap. Dalk lek dit nog meer na die groot operasie!

Ons straf hom soms deur sy Sharks nagklere aan te trek. Is dit nie belaglik dat die spul in Pretoria nou ook die Blou van die Afrikaner se Blou Bul wil verruil vir die ANC kleure nie... Ek dink nou sukkel hulle met die verkeerde groep Afrikaners!!

11.1.10

Die naweek op die plaas!!

Ons het die naweek vir Daleen en Jacques op die plaas gaan kuier. Die weer was fantasties, en die veld is pragtig en groen. Die plaas is geleë in die Baberton vallei; ek is net weer verlief op die Laeveld. Dit is seker die mooiste deel van die land; ons is baie gelukkig om hier te kan woon!!
Toe ons daar aankom het Jan-Hendrik eers die plek gaan verken - daar was 'n trop rooibokkies by die huis; hy't hulle so bietjie verwilder..

Jacques het die grootste deel van die stoep (spesiaal) toegemaak vir Jan-Hendrik, maar daar is dele wat oop is, en hy (Jacques) was bang dat hy (Jan-Hendrik) daar gaan afval. Ons was nie bekommerd nie - Jan-Hendrik kop die idee van afgrond, val en seerkry...

Daleen gaan so oor drie weke in vir haar Keisersnit. Hulle sien vreeslik uit na die koms van hul dogter, Heidi.

Verken is die ding wat mens doen op hierdie wildsplaas. Jan-Hendrik het ons Sondagoggend sommer al vroeg wakker gemaak vir 'n stap om die huis; op soek na bokkies, zebras, kameelperde, slange, en ander goggas..

'n Heerlike naweek, op 'n heerlike plek, saam met goeie vriende!!

En Jan-Hendrik was die hele tyd baie bedrywig - ons almal het die heel tyd gehardloop en gespring. Hy het hulle net gou gewys wat alles nog gedoen moet word aan die huis voor hulle eie baba kom...


9.1.10

Pampoen kom kuier uit Kanada !!

Dis maar wat ons doen hier in Nelspruit in die Somer - swem, swem, kuier, speel met die honde ...

Pampoen, haar man Nico, en haar skoonouers het oppad terug uit die wildtuin hier by ons kom kuier. Dit gaan goed met hulle daar in die vreemde. Hulle was twee dae in die wiuldtuin - alles gesien (insluitend luiperds), maar nie leeus nie..

En meneer klim deesdae die hoë stoele uit, maar hy kan nie afkom nie...