20.4.10

Loskop 2010!!

Die afgelope naweek het ons gaan uitkamp by die Loskopdam vir die marathon. Daar was duisende mense en nie plek vir 'n ekstra siel nie. Die omgewing is pragtig - voel amper soos Nelspruit se area; net so klein bietjie koeler.

------------------------------
Ek en Boeta het al van vroeg af vir Marinda gewag by die eindstreep - dit nadat ek probeer het om myself en vir hom skoon te kry en ontbyt te gee. 'n Man is nou een maal nie 'n moeder nie. En toe verras hy my met 'n doek uit die hel uit - die ... was orals; ek kon dit nie vreeslik lank ignoreer nie.

------------------------------
En hier maak Marinda-hulle klaar. Lyk of hulle net om die blok gehardloop het, maar dit was egter 50km tussen Middelburg en die Loskopdam. Goeie voorbereiding vir die Comrades (oor ongeveer 5 weke).

------------------------------
Boeta het sy swing goed ge-oefen die naweek. Hy raak al beter, en hy dring ook daarop aan om die bal op iets te stel. Hy het begin met ons koppies en wynglase, maar hy het ontdek dat die proppie van 'n melkbottel baie beter werk. Kyk daai perfekte "turn". Ons sal nog werk aan die gebuigde linker arm.

En die "follow through" is effens afgekap - hy "punch" die bal soos sy pa. Dit werk soms baie goed.

------------------------------
Hier is die Meyer seuntjies met wie Jan-Hendrik die hele naweek gespeel het. Eintlik met hulle speelgoed - hy was mal oor die draadkar. Ek het die skimp gevang - ek soek na 'n mooi een.

------------------------------
Hier kom almal bymekaar vir die gebruiklike sherry run - hierdie jaar in baba blou. Ek het nou al 4 van hierdie t-hemde - elkeen in 'n kleur waarmee ek nie in die openbaar sal verskyn nie, maar dit werk goed vir slaaptyd.

------------------------------
En Boeta het lekker saamgespeel, en ook sy deel van die drinkgoedjies gehad (darem net Coke en Sprite Zero vir hom - meeste daarvan het op geëindig op my blou hempie...)

------------------------------
Hyen sy ma - sy lyk maar lekker moeg; ek dink haar lyf was seer na die lang wedloop die vorige dag.


------------------------------
Die dam is mooi vol. Hier is ons by die damwal. Hulle het 'n groot gedeelte daarvan toegemaak in die laaste paar jaar - vorige jare het ons tot op die punt van die looparea beweeg. Ek moet sê - so ver weg soos nou voel tog so bietjie veiliger. Veral met klein woelige seuntjie wat orals rond hardloop!
------------------------------
En ons nuwe voorsitter by die marathonklub - Bennie Burger - neem fotos van sy kudde.
------------------------------
Selfs die jongstes.
Dit was 'n heerlike naweek; ons sal nie sommer die Loskop mis nie. Volgende jaar hoop ek om dit self te hardloop. Ons sal maar soek vir 'n baby sitter.

12.4.10

Welkom in die familie, Tiaan!!!

Conraad en Verushka se seuntjie is gebore op die Vrydag voor ons met vakansie was (26'e Maart). Dis die mooiste mannetjie - nogal klein, met 'n cute gesiggie; lyk soos sy Pa! Jan-Hendrik het geweet 'n mens moet saggies vat aan iets wat so klein is. Hier ontmoet hy sy eerste nefie - Tiaan (Gert Pieter Christiaan) Bezuidenhout. En so raak die familie net weer groter. Wonderlike gedagte. ------------------------------
Die baba slaap omtrent die hele tyd (soos meest ebabas maar doen), daarom het Jan-Hendrik maar alleen gaan spring; tot vermaak van almal; sonder om seer te kry.
------------------------------
Ek weet wat Marinda dink. Was Jan-hendrik ooit so klein en pap? Dis 'n tyd wat ek self baie sleg onthou. Vir my was hy nog altyd groot, aan die spring en gesels. (Ek kan nie wag vir ons volgende een nie!)
------------------------------
Howzit Tiaan!!
------------------------------
Howzit Jan-Hendrik! Sy beste pel met die kuier in Virginia was Vettie die hond. Hulle is omtrent ewe groot.

------------------------------
Daar smelt sy Pa se hart al weer. En hoe anders? Hy's 'n engel!

------------------------------
Hy is ook mal oor al die mans in die geselskap - Conraad en al die Oupas.

------------------------------
Oppad terug Nelspruit toe het ons net gou weer by Potch gestop en lekker gekuier met Oupa, Ouma, Andrew en Tanya. Ons het wragtag die hele familie gesien in 'n kwessie van 8 dae! Kyk hoe lyk hulle dieselfde!

------------------------------
En die bakkie se bonnet maak 'n heerlike spring oppervlakte. Dit duik selfs in!

Two Oceans 2010!

Die dag voor die Oceans het ons die nodige formaliteite gaan afhandel by die Expo by die Good Hope sentrum in Kaapstad. Vreeslik baie uitstallers, maar geen Oceans-spesifieke klere en ander goedere nie - eintlik teleurstellend. Ek het ook my goodie bag gaan optel vir die 21km waarvoor ek ingeskryf het. Niks geoefen nie, dus nie gehardloop nie.

------------------------------
Die oggend van die race - vrek vroeg opgestaan. Hier is ons by die wegspring en daar is duisende mense. Dit is 'n wonderlike gees wat heers so by die begin van die wedloop - nogal aansteeklik!


------------------------------
Die skoot het geklap, en ek is weg - om vir my ontbyt te gaan soek ... Kyk hierdie pragtige ou groot boom in een van die ouer dele van die stad.

------------------------------
Oppad na die halfpadmerk ry ek oor Oukaapseweg. Het dit laas met my fiets gedoen omtrent 8 jaar gelede. Ek is verbaas dat dit so mooi is bo-op die berg. Met die fiets het ek baie ander emosies gehad...


------------------------------
By die halfpadmerk aangekom, en hier is die Russiese tweeling wat verby kom met hulle usual ek-wil-op-die-tv-wees-kyk-mamma-in-soweto-hier-is-ekke groepe mede-hardlopers.

------------------------------
Marinda was seker net 10 minute agter die Russe, en ek moet sê sy was baie meer ontspanne! Ek was net bly ek het haar raakgesien tussen die massas.

------------------------------
Direk daarna einde toe gery; verskriklike swaar verkeer gekry naby die universiteit; omtrent geen parkering nie!

------------------------------
En hier kom sy in (uitenidelik), met 'n spogtyd van 5:59!!!! Ons is almal baie trots op haar. My ma-hulle en Jan-Hendrik was daar om haar te verwelkom by die eindstreep.
------------------------------
Jan-Hendrik was nie baie happy nie - te veel mense (ek stem saam), en te harde musiek (stem saam), en die aankondiger het 'n irriterende stemmetjie gehad... maar nog steeds 'n wonderlike dag! 6 ure wat ongelooflik vinnig verby gevlieg het!

11.4.10

Wat is 'n Kaap-vakansie sonder 'n bietjie wyn?

Ons het een oggend die wynplase besoek in die Durbanville area - Durbanville Hills, Hiilcrest, en Nitida. Die Durbanville Hills fasiliteit baie smart - 'n groot proe lokaal met baie lekker wyn, maar die mense wat jou bedien weet nie veel nie. Die kelder, gebou en die wingerde in hierdie area is iets besonders!


Die Hillcrest wynplaas is baie klein, en die wyne om te proe is baie beperk. Nitida was 'n lekker besoek - ek het gehou van veral hulle Riesling en die Semillon. Ek ken nie regtig Semillon in sy suiwer vorm nie, maar ek het dit geniet, en daar was ook 'n lekker Semillon by Steenberg.
Steenberg is baie smart; amper aan die onpersoonlike kant, maar hulle wyne is baie lekker, en was veral impress met hulle Nebbiolo (nog nooit gedrink nie; lyk en proe amper soos 'n Pinot noir). Terwyl Marinda gehardloop het, het ek 'n heerlike (maar peperduur) ontbyt daar gehad.


Die Kaap op sy mooiste!

Dit was heerlik in die Kaap, en ons het net wonderlike weer gehad. Ons het 'n paar dae alleen in Blouberg gaan bly, baie naby aan die woonstel waar Jan-hulle gebly het so 'n paar jaar gelede. Dit is darem 'n unieke gesig - die tafelberg. Ons was ook baie beïndruk met hoe mooi en skoon die Kaap is. Die antie (Zille) doen iets reg, maak nie saak wat wie van haar sê nie...

En kyk net wie het ook kom kuier - ons boot die MSC Simfonia! En die stadium by Groenpunt is baie indrukwekkend - vreeslik groot (maar ek sien nie parkering nie...)


Jan-hulle se huis in Stellenbosch

Jan-hulle het 'n pragtige huis op De Zalze net buite Stellenbosch. Die huis se uitsig aan die een kant is die Chenin blanc wingerde, en aan die ander kant die tweede fairway van die gholfbaan. En laat die middag sak die son so dat die berge van Stellenbosch roesbruin verkleur met die agtergrond van blou lug en die voorgrond van groen wingerde. En in die oggende 'n wonderlike miswolk wat die hele streek soos 'n kombers toevou en saggies fluister - slaap nog 'n rukkie...