14.1.10

My netjiese lab!!

Ek het besluit om vandag 'n klomp fotos te neem van die laboratorium. Dit is so 'n jaar gelede heeltemal oorgedoen, en ek dink dit lyk baie netjies; nogal modern. Die ingang gee al klaar 'n professionele indruk aan die besoeker. Dit moet lekker wees om hier jou bloed te laat trek...
--------------------------------------
Die histologie lab is nogal klein, maar baie funksioneel. Dit is heeltemal apart van die groot kliniese lab (en dis nogal hoe ons by histologie dit verkies).

--------------------------------------
Die histologie deursitarea waar die monsters beskryf en geprosesseer word.

--------------------------------------

Die kliniese lab - op dieselfde styl gebou - 'n oop plan lab met moderne features, nuwe masjiene, baie lig, groot vensters vir baie natuurlike lig. Ek dink dit is die mooiste lab in die Ampath groep.

--------------------------------------
En dan bestaan die lab natuurlik uit mense. Hier is Susan (of Sexy Susan soos ons na haar verwys). Sy doen al die sitologie (Papsmere) in die lab.

--------------------------------------
Ou Tony doen net mikrobiologie - hy werk dus nog steeds net met goggas. Ek het gehoor hy het 'n lang string grade in entomologie (insek-kunde), en ek dink hy het net 'n aftree-werkie kom soek in 'n mediese lab.

--------------------------------------
En my slim kollega - Reinette du Plessis. As ek iets nie weet nie, dan vra ek haar. (Sy kom vra my darem ook af-en-toe 'n opinie..)

--------------------------------------
Die lab bestuurder - Ria. Sy is die een wat alles en almal run. Sy is die baas. Sy sal nogal daarvan hou om te hoor dat ek so na haar verwys.

--------------------------------------
En ek sit in die corner office, met 'n deurmekaar tafel, 'n smart mikroskoop, en hope werk. Lekker!!

--------------------------------------
Die lewe van 'n histopatoloog is regtig nie sleg nie. Ons werk nie met pasiente nie - hulle griewe, vrae, angs, onsekerhede is goed wat ons tweede plaas; ons sê wat ons sien, en ons sê dit net soos dit is, en sodoende word die pasient op die vinnigste en beste manier gehelp. Ek is mal oor my werk, en ek het nog nooit 'n histopatoloog raakgeloop wat nie so voel nie.

13.1.10

Piet speel plumber!!

Die fitting tussen die pomp en die filter het gebreek, waarskynlik toe hy geskuif is na sy huidige rusplek. Die gebreekte fitting is op die vashouplek waarby iemand (sal nie sê watter bouer nie) die filter moes optel...
Plumbing is nie moeilik nie - mens kort net geduld, en jy moet nie omgee om vuil te word nie...

Die kind het wysheid verby sy jare. Hy dring aan op die gebruik van 'n veiligheidsbril...

Jan-Hendrik het my bygestaan deur aan die nat fittings te peuter, en met die skroewedraaier aan die filter te kap. Dalk lek dit nog meer na die groot operasie!

Ons straf hom soms deur sy Sharks nagklere aan te trek. Is dit nie belaglik dat die spul in Pretoria nou ook die Blou van die Afrikaner se Blou Bul wil verruil vir die ANC kleure nie... Ek dink nou sukkel hulle met die verkeerde groep Afrikaners!!

11.1.10

Die naweek op die plaas!!

Ons het die naweek vir Daleen en Jacques op die plaas gaan kuier. Die weer was fantasties, en die veld is pragtig en groen. Die plaas is geleë in die Baberton vallei; ek is net weer verlief op die Laeveld. Dit is seker die mooiste deel van die land; ons is baie gelukkig om hier te kan woon!!
Toe ons daar aankom het Jan-Hendrik eers die plek gaan verken - daar was 'n trop rooibokkies by die huis; hy't hulle so bietjie verwilder..

Jacques het die grootste deel van die stoep (spesiaal) toegemaak vir Jan-Hendrik, maar daar is dele wat oop is, en hy (Jacques) was bang dat hy (Jan-Hendrik) daar gaan afval. Ons was nie bekommerd nie - Jan-Hendrik kop die idee van afgrond, val en seerkry...

Daleen gaan so oor drie weke in vir haar Keisersnit. Hulle sien vreeslik uit na die koms van hul dogter, Heidi.

Verken is die ding wat mens doen op hierdie wildsplaas. Jan-Hendrik het ons Sondagoggend sommer al vroeg wakker gemaak vir 'n stap om die huis; op soek na bokkies, zebras, kameelperde, slange, en ander goggas..

'n Heerlike naweek, op 'n heerlike plek, saam met goeie vriende!!

En Jan-Hendrik was die hele tyd baie bedrywig - ons almal het die heel tyd gehardloop en gespring. Hy het hulle net gou gewys wat alles nog gedoen moet word aan die huis voor hulle eie baba kom...


9.1.10

Pampoen kom kuier uit Kanada !!

Dis maar wat ons doen hier in Nelspruit in die Somer - swem, swem, kuier, speel met die honde ...

Pampoen, haar man Nico, en haar skoonouers het oppad terug uit die wildtuin hier by ons kom kuier. Dit gaan goed met hulle daar in die vreemde. Hulle was twee dae in die wiuldtuin - alles gesien (insluitend luiperds), maar nie leeus nie..

En meneer klim deesdae die hoë stoele uit, maar hy kan nie afkom nie...


7.1.10

Mens kan dit nie glo nie...

Ek en Jan-Hendrik het vanmiddag die laaste +/- 30 beurte gesit en kyk; en dit is net onverklaarbaar hoe ons nie die laaste paaltjie kan vat nie. Die 3'e toets teen Engeland is ook gelyk op. Die eerste toets was dieselfde storie. Ons moes dit ook gewen het; en die 2'e toets was 'n totale gemors. Ons kan dus nie meer die reeks wen nie. Ons kan net verloor of gelyk op speel (met 'n wen in die laaste toets - yeah right...). Dalk, net dalk is die Engelse nie sleg nie ... (?)



Uit pure frustrasie het Jan-Hendrik toe sonder om te stop vir ten minste 'n halfuur lank net gespring op die bank. Mens kan nie glo hy spring so hoog met sulke kort beentjies nie (ek wou die video ingesit het maar die internet is vol stront vanaand; dalk is dit beter more).
Ek het sommer begin kasdeure regmaak; ek was op die punt om die honde te begin was, of selfs die gras te begin sny. En vir dié wat my ken - dis net nie ek nie. Mens wonder of die krieketspelers weet deur watter hel hulle ons sit...

6.1.10

Marinda verjaar!!!

Vandag is Marinda se verjaardag - dus was dit my beurt om baie vroeg op te staan en 'n grooooot ontbyt te maak, met champagne en die hele toetie. Jan-Hendrik was al wakker toe ek dit kamer toe neem; dus was hy deel van die fees, en ons was aan die einde minus twee glase.

Hier hou hy vas aan die prop net toe dit pop; die verbasing op sy gesiggie is moeilik om te beskryf, maar ek besef nou eers hy het dalk gedink hy het die bottel gebreek, want hy wou onmiddelik die prop terugsit.


Hy word nou so vinnig groot - hy kan nou al mooi wys waar as jy hom vra "waar is jou neus / oor / oog / mond?", en hy is meeste van die tyd reg!!

Marinda se verjaardaggeskenk is 'n 5-dag, 4-nag "cruise" vir ons drie op die splinternuwe Sinfonia; Durban - Maputu - Barra Lodge - Durban; alle etes en vermaak ingesluit; ons vertrek die 15'e Februarie, en kom terug die 19'e. Ek kan nie wag nie!!


Shows, gambling (wat ons waarskynlik nie sal nie), son, swem, eet, kuier; en dan begin dag 2..

Hier is die roete - dis nie ver nie, maar dit is lank genoeg om lekker uit te rus. Ek moes kies tussen die goedkoper kamer vir 7 dae, en die duur kamer met die view en die balkon vir 4 dae; die keuse was duidelik. Net die beste vir my droomvroutjie (en droomseuntjie)!!










5.1.10

Ek gaan binnekort begin toonlere oefen...

Dit reën vandag in Nelspruit, en ons was verplig om binne te speel vandag. Jan-Hendrik lyk baie tuis voor die klavier - seker maar die tips wat hy die vakansie by Ouma Corrie geleer het.

Hy is nogal 'n handvol - hy klim op al die stoele, en van daar af op die klavier, op die eetkamertafel, ens. En hy smile ook nou vir die kamera - hy weet hy's cute.






Ek en JH bad of stort elke dag saam, maar hy het deesdae die gewoonte om alles te slaan; so ek is maar skrikkerig; mens weet nooit wat hy volgende gaan target nie..

Hy het lekker saam met my gebad. 'n Paar keer sy kop teen goed gestamp, maar hy is nogal maklik om te troos deesdae - amper asof hy weet die pyn gaan gou verby gaan.
Ek het vandag amper die hele dag spandeer om vir Marinda die perfekte verjaardag geskenk te kry. Almal sal more sien wat dit is...


4.1.10

Eerste Maandag ...

Vandag nie veel opwinding gehad nie. Ek het opgestaan met 'n lekker hoofpyn, en hy sit nog daar êrens. Ek is die hele nag rondgejaag deur 'n paar muskiete wat nie vir peaceful sleep val nie. Vandag was ook die eerste dag weer by die werk na al die vakansiedae. Min werk gehad.

Ons ontdek vanoggend dat Jan-Hendrik nog 'n nuwe tand het - die keer 'n kiestand, links bo!! Hy word nou te vinnig groot!!

Geen fotos geneem vandag nie.

3.1.10

'n Heerlike dag in die Kruger Wildtuin!!

Ons het vanoggend redelik vroeg Wildtuin toe gery vir die dag. Ons was maande gelede daar, en ons het almal die dag vreeslik baie geniet! Jan-Hendrik ook - hy begin nou actually vir die diere kyk, en hy lag vir hulle; en hy wil nie hê ons moet ry nie..


Hierdie troppie jong rooibokramme het ons by die Phabeni hek gekry. Al die diere is spekvet en gesond (amper soos ek self), en die veld is pratig - welig en groen. Vandag was ook 'n renerige dag in die Laeveld. Ek voel soms ook soos hierdie bok - hy het plat met sy gesig op die grond gelê en lui word. Hy het gou weer opgespring toe Jan-Hendrik hier skuins bo hom vir hom begin lag.


Daar is ook baie verkleurmannetjies op die pad (sommiges so effe plat gery). Hierdie een was besonder mooi - kyk al die patrone op sy lyf!!

JH was so effe moeilik in die kar by tye - hy het beurte gemaak om ons mal te maak. Het hoofsaaklik by sy Ma gesit ..

.. maar hy het self ook lang ente bestuur. Dit gaan redelik woes, want hy wil die hele tyd ver links draai (al gaan die pad regs), en hy wil nie hê ek moet ook vashou nie. Ek hou maar vas sodat hy nie kan sien nie. En hy sukkel tot hy dit regkry om die toeter te druk. Ek het 'n paar vuil kyke gekry op die pad vandag...

Soos ek sê - die veld is groen, en die grasse staan meters hoog - 'n mens kan nie baie diep in die veld in sien nie, en ek dink hierdie tyd van die jaar speel geluk maar 'n groot rol as jy die groot 5 wil te siene kry. Ons was vandag baie gelukkig - 2 keer leeus gekry.

Hierdie jong leeu was redelik diep in (so 100m), gestaan in 'n boom. Links van die teerpad, halfpad tussen die Phabeni hek en Skukuza; op die teerpad.

En hierdie leeus was ook op die teerpad; tussen Laer Sabie en Krokodilbrug; regs van die pad.

Die dam by Laer Sabie was weer eens 'n treffer. Hier het ek al van my beste fotos geneem - BAIE krokodille en seekoeie.

Ons het ook vandag heelwat olifante gekry; ongelukkig nie te naby aan die kar nie. Baie kleintjies!!

Hier is ons net voor Krokodilbrug (waar ons die park uit is). In een foto 'n paar pragtige olifante en twee renosters.

Daar was ook ander toeskouers. Hierdie trop bobbejane het letterlik soos 'n klomp toeskouers op 'n paveljoen gesit en kyk hoe die son besig is om onder te gaan.

En die kleintjies het woelig gespeel op een van die aanwysings-klippe.

Die brandwag het gesit en almal uitkyk - ons ook...

Maar die grootste bobbejaan was in sy Pa se kar..

Hulle is oral besig om nuwe goed te bou. By al die hekke bou hulle nuwe ingange (nogal baie nice - 'n mens kan direk daar inboek; jy hoef nie meer in 'n tou te gaan staan by die kantoortjie nie; nou sit jy in jou kar in 'n tou - amper soos 'n McDonalds Drive-through). Die nuwe brug waarmee hulle besig is by Krokodilbrug het heeltemal weggespoel. Die ou laagwaterbruggie staan nog. Ons is daar deur (in 'n ongemaklike 1 voet hoë muur van water)...



'n Wonderlike dag, saam met wonderlike geselskap; en ek hoop ons gaan gou weer!!