3.1.11

ONTMOET VIR LANA!!!

Die dag het baie vroeg begin vir ons twee; maar ek weet al die Oupas en die Oumas was reeds wakker toe ons besluit het om op te staan - almal het spanning rondom die geboorte van 'n kind; ons almal hanteer dit verskillend. Ek dra pienk. Gekoop in Markhams; gewone winkels het net wit of effe wit hemde. Spesiale geleenthede vra vir spesiale toebehore; so sê ek...

Marinda het alles ingepak vir elke moontlike scenario. En alles is pienk. Dis nou dat jy hoop die gynae was reg met die sonar, want anders sit ons met 'n huis vol pienk goed wat ons nie gaan gebruik nie.

Selfs in die hospitaal, met drips en monitors en ander masjiene is sy nog steeds die mooiste swanger vrou wat ek nog ooit gesien het; en sy lyk sterk; bang vir niks; vol selfvertroue; met 'n glimlag..

In die teater wys sy so bietjie vrees; begin toe weer giggel toe die doepa in die spinaal inskop en haar Comrades-bene begin meegee.

Maar soos mt die vorige keisersnit besef ek net weer watter fantastiese mense rondom ons roonloop en bly. Hier is Marinda saam met Sias Willemse - haar narkotiseur en sommer ook onse buurman; met sy vrou Yvonne en die drie swembad-seuns.

Hier is Marinda saam met die "instaan" ginekoloog, Wilhelm Combrink. Pieter Steyn is met vakansie by die see. Wilhelm ons ons beide baie rustig laat voel en hy het 'n wonderlike werk gedoen.

En die assistent, Dr van Zyl; wat ek vandag vir die eerste keer ontmoet het; sy voel al sommer soos 'n huisvriend. En almal in die teater was vrolik en gelukkig. Soos met Jan-Hendrik se geboorte was ons keisersnit-ervaring baie spesiaal.

Met 'n gewikkel en 'n gekarring; trek-trek; krap-krap; en KYK!!!


WELKOM RIANA!!!!
ONS NOEM JOU SOMMER LANA!!!
JY IS PERFEK GESKAPE; PRAGTIG; STERK, PIENK EN SKREEUERIG.
DIE OOMBLIK WAARVOOR ENIGE MAN SY HELE LEWE LANK OOR DROOM. DIE GEBOORTE VAN SY DOGTER!!!!!
En met groot sorg maak Pierre taljaard seker dat jy reg is (pediater); en hy wys vir my dat al jou dele (soos vingers en tone) almal daar is, reg is en reguit is. Jy is werklik perfek!!!

Die gelukkigste man en pa in die wêreld!!! Kyk my mooi gesin (en onthou vir Boeta by die huis; word nie toegelaat in die kraamsaal nie).

Die eerste ontmoeting; oupas, oumas en Jan-Hendrik. Ek is seker hy verstaan die konsep; hy's vrek slim, en ons het hom mooi vertel van Sussa in Mamma se magie; en die dokter wat vir Sussa gaan uitsny...

Kyk net hoe trots is die familie...

Die vital stats, vir die wat wil weet, vergelyk of spekuleer; of vir die wat dalk die wettenskap wil wen; ek dink Ouma Corrie was die naaste (3,1kg).

En Pappa is daar in al sy pienk glorie; maak seker dat (hierdie keer) daar nie trane op wangetjies hand en nie afgevee word nie.

Sy lyk vir my net soos Jan-Hendrik toe hy gebore is; net kleiner en fyner; met langer vingers..

Hier lyk dit of sy vir Marinda glimlag; pragtig, né.

Shame, moeg!!
Dit lyk of niks met Marinda gebeur het nie; sy vat alles in die lewe met die grootste gemak. Behalwe vir so bietjie pyn na die tyd het die hele ding seepglad verloop. Die Omnopon in die hospitaal is op...

Vioolspeel vingers..


Trotse Pa by sy dogter. Niks sal ooit tussen ons kom nie. Nooit!!


Ek neem honderde fotos; nog sal volg; hou net die blog dop. Tot later; Piet.

2.1.11

'n Onwerklike gedagte...

Ja; dis die laaste dag sonder 'n dogtertjie in ons huis. Ek moet sê - die groot datum het ons stilletjies bekruip; bietjie aangehelp deur onvoorsiene omstandighede... Maar hier is ons nou; laaste dag.

Ons het 'n heerlike lui dag gehad; eers gaan ontbyt eet by die Spur (al die ander plekke is toe); en later het skoonpa vir ons die lekkerste potjie ooit gemaak by die huis en ons het geswem en met Boeta in die tuin gespeel.

En krieket gekyk; Smith al weer misluk... Kyk!

Jan Willem Hendrik en Jan Willem Hendrik saam op een foto; hulle deel 'n voorkop, nie waar nie?


Daar is niks soos goeie kos en uitstekende wyn om ons familie se geluk te vier..

Die Pa van die dogter met my dogter (in haar magie; tot môre toe)..

Oupa Jan is 'n goeie luisteraar.

Die muskiete dra ons weg in Nelspruit; ons beskerm ons met spuitgoed; selfs die sterkstes onder ons..

Almal is lief vir Marinda!! Ek ook!!! (Maar ek neem al die fotos...)
Dis 'n baie spesiale gedagte - môre kom my dogter; ons almal se lewens sal vir altyd verander word. Ek kan nie wag nie!!!

1.1.11

Oujaarsdag; 2010!!!

Die einde van die jaar; en ek staan en kyk na my huis, en na my gesin, en ek sien hoe alles goed gaan. Marinda se keisersnit is deur die reserve gynae geskuif na komende Maandag die 3'e (aanvanklike datum was die 12'e). Marinda se eintlike gynae sit in Oudtshoorn. Ek vra die vraag: Wie in sy regte verstand hou vakansie oor Kersfees en Nuwe Jaar? Maar ons aanvaar die dinge wat ons nie kan verander nie; en eintlik is ek bly dat Marinda vroeër verlos gaan wees van die ongemaklikheid; ek weet sy wil weer begin hardloop.

Die kamer is so-te-sê klaar; die kleur en die tema is pienk, en dogtertjie, onderskeidelik. Ek is baie trots op die eindproduk; en ek kan nie wag dat Sussa (Riana / Lana / ons-sal-nog-sien) by die huis gaan opdaag nie; hopelik volgende week Woensdag.

Die Oupas en die Oumas is hier om te kom help met Jan-Hendrik, en hulle wil ook nie die nuwe baba se koms mis nie. Ons kuier heerlik; dis vrek warm in Nelspruit; en vreeslik humied. Ons spandeer lang tye in die swembad. Die Oupas speel met Jan-Hendrik; hulle leer hom swem; doen my 'n hengse guns. Daar is goed wat Oupas beter doen as Pappas...


Jan-Hendrik entertain almal met sy hammer-slaan, gholf en skop skills.

Een van die VELE verjaardag geskenke; hy is op 'n ander planeet; in sy eie wêreld...





Hy speel viool en plastiek-kitaar saam met Ouma..

En daar is nie 'n tekort aan ondersteuners nie.

Ons braai buite; en ons drink hope wyn, bier en goeie whiskey..


Ons speel buite saam met die honde; wat moet agter bly anders pie hulle op ons meubels voor op die stoep; en Sunnyboy is tiepe van met verlof...


Champagne op die dag met middernag; terwyl ons na ander manne se vuurwerke kyk..

En Jan-Hendrik gee nie 'n ... om nie; hy slaap; die dag (en die jaar) was net 1 uur te lank...

27.12.10

Wat 'n besige langnaweek!

Wat doen die Swanepoels so oor 'n laaaangnaweek?
Wel, ons tel die dae af voor die koms van die nuweling in die gesin; en ons besef hoe min tyd daar eintlik oor is om die nuwe kamer klaar te maak.
En sommiges speel sonder einde met die kersgeskenke (beide die helikopter en die vliegtuigie se bewegende dele is al verby stukkend, maar dit het darem so twee dae gehou en gesorg vir baie vreugde...)


Maar op 'n punt het ons almal besluit om in te spring sodat die kamer nou net kan klaar kom en pappa (ekke) een aand vroeg in die bed kan klim (vroeg ophou raas; gelukkig is die bure met vakansie).


Die bouers het baie mooi die venster kom vas pleister en die muur tot bo gebou waar ek dit uitgebreek het.
Boeta het elke breek saam met ons geneem en ook ontdek wat "moer hoog" beteken..


Marinda het my baie gehelp met die verf van die mure; dis egter die wit dak wat my die meeste verpes het; ek het agter gekom dat wit die moeilikste kleur is om mee te werk, en dat jy baie duidelik sien waar wit spots op 'n wit agtergrond mis geverf word, veral in vroeg Saterdagoggend natuurlike sonlig (toe doen ek dit weer...)


Boeta glo hy moet sy tande vir die kamera wys...

Amper klaar; nou net om die hele vloer af te skuur...

En vier lae te seel; gelukkig nie meer op my knieë nie...

Die finale produk (ons is nou so 99% klaar) is vir my 'n groot rede om trots te wees. Ons het 'n pragtige klamer bygekry; spesiale kamer vir 'n spesiale dogter. Ek hoop sy geniet dit.


Boeta is mal oor die gevoel van die nuwe vloer; hy't vir 'n halfuur lank gedans en mal gegaan terwyl ek probeer fotos neem het.


O ja; amper vergeet ek; ek het sommer die kombuis vloer ook oorgedoen...

Dit was 'n heerlike naweek saam my gesinnetjie; sonder om 'n voet uit die huis uit te sit...