5.12.10

'n Baie besige bloedig warm Saterdag in Nelspruit

Saterdagoggend was dit Jan-Hendrik-hulle se musiekklas kersboom partytjie. Dit was net tweejariges everywhere. Kleurvol en loud; en Jan-Hendrik was die besigste van die hele spul...
Pragtige kersboom!!

En daar's babatjies ook, want meeste van die gesinnetjies is jonk en die "tweedes" is al daar (soos ons sal wees volgende jaar die tyd).
Die jumping castle is groot, net groot genoeg vir Jan-Hendrik en nog een of twee versigtige kinders..

Hy's wild, en so bietjie afknouerig. Hy vat goed geweldadig af by ander kinders; hy tackle die ander seuntjies tot op die grond; hulle val, skuur op die grond; almal huil; hy staan op en tackle of stamp die volgende een. Marinda is bang hy's die boelie in die skool, maar ek het 'n ander filosofie oor hierdie dinge. Klein diertjies in die diereryk "play fight" die hele tyd; daardeur otwikkel die leiers en die onderdane; Jan-Hendrik is besig om te wen; hy sal ook maar eendag die rugbyspan se kaptein word (by default; die ander pisgat seuntjies sal net te gretig wees om hom te kies); en dit sal vir die res van sy lewe so gaan. Darwin was dalk reg toe hy die term "survival of the fittest" aan die wêreld gegee het; en "fit" beteken nie noodwendig die ou wat die vinnigste kan weghardloop nie. Dalk beteken "fit" die ou wat kan regop kan staan en die oposisie op ander maniere (en soms ook in die oponent se beste belang) op die grond kan vaspen. Iemand moet besluit hoe die aarde om die son draai... Lyk my Jan-Hendrik sal.

Voorbeeld - hy speel bal met die pragtige dogtertjie; maar almal moet weet dat die bal eintlik syne is, en dat hy ter wille van speel bloot tydelik die bal vir haar sal gooi, met die voorwaarde dat sy dit mooi teruggooi, en dat hy dan kan besluit of hy dit vir haar gaan terug gooi. En sy is mal oor hom, juis omdat hy haar toelaat om saam met hom te speel. Thought provoking stuff, nie waar nie?


Sy Ma leer hom om mooi met die maatjies te speel; en ek dink hy verstaan dit alles; maar sy innerlike natuur (instinkte) vertel vir hom iets klein bietjie anders. En ek dink dis waar opvoeding inkom - om jou dominante kind te leer om dominansie te beheer, en reg te kanaliseer. Hitler se ma het die toets gedop; Tiger se Pa dalk ook; maar ons (ek en Marinda) se ouers het goed daarin geslaag om ons onbarbaars groot te maak. (Onder barbare is daar ook leiers...)

Die maatjies maak reg vir Kersvader se koms...

Hy lyk hierdie jaar selfs jonger as laasjaar; totally believable!

Sommige kinders aanvaar vir Kersvader sonder weerstand..
Jan-Hendrik kyk die kat uit die boom uit. Ek is seker hy wonder oor goed wat hy self nog nie kan verstaan nie; maar iets sê my hy gaan vir Kersvader uitfigure voor die ander kiddies...
Sommiges is té jonk om om te gee oor Kersvader op die oomblik..

Andere haat hom..
Jan-Hendrik is nog nie seker hoe hy oor die ou moet voel nie, maar hy bring vir hom 'n geskenk, so hy aanvaar dit vir nou; speel onderdanig en dankbaar, vat en loop. Amper soos mens 'n hedendaagse munisipale politikus benader - jy laat hom voel soos 'n koning, jy sê selfs iets soos "asante mfalme wangu" (thank you my king in Swahili), draai om, en hou aan dink wat jy wil.

Pragtige geskenk; pas die kop en die stert by mekaar, dan moo die koei, of dan blaf die hond. Exciting stuff!!

En ek kyk rondom my en sien dat daar darem ander jong pappas is met groter kameras en groter boeppense as ek... d.w.s. ek is nog OK!!
"Daai baard kan nie real wees nie; kersvader ruik soos pappa se bier by die huis; dalk ken hy en pappa mekaar...". Dalk nie.
Daar was baie lekker eet- en drinkgoed om die kinders mee besig te hou.

Later die dag kyk ons die gholf op die TV (Sun City) terwyl ons so stuk-stuk aan die nuwe kamer werk. Die Laeveld is verskriklik warm en humied. Om te werk is vrek moeilik. Ernie is nie voor nie. Slaan al wat water is raak.

Dit is so bietjie vervelig; veral die Amerikaner se kommentaar; sê alles wat obvious is; maak stupid opmerkings. Ons mis vir Dennis Hutchinson.

Mamma verf in die dampe; pappa jaag haar weg uit die nuwe kamer uit, want hy sê hy kan nie onthou hoe om 'n baba veilig uit te haal nie.
Ek het die ligte vir die nuwe kamer opgesit; dit lyk eintlik baie mooi. Die kamer gaan baie special wees; maar die venster moet nou in vir ventilasie, anders gaan ons almal dooi van die hitte.

Ja; dis die grootste venster wat Marinda in die hande kon kry. Ek gaan my gat af sukkel volgende naweek.
Laatmiddag, en ons is oppad na die werk (Ampath) se jaareindfunksie by een van daai eksklusiewe lodges buite Nelspruit; omtrent 15km grondpad gery tot by die plek; heelwat pragtige wild te siene gekry.




Dis jammer ons lewe in 'n tyd waar 'n pragtige ding soos 'n renoster deur barbaarse kriminele gejag word tot op die drumpel van hul bestaan, en dit ter wille van 'n horing (syne, en die Chinaman sn)... Horings almal afgesaag; baie sad om te sien...


Ek het nie gedink die werk het genoeg geld om so 'n plek te kry vir die afsluitingsfunksie nie... Pragtige plek; heerlike kos; baie lekker wyn; groot sukses.

Moet niks dink of sê oor die hemp nie. Die tema vir die geleentheid was "rooi, wit en silwer". Ek het hierdie hemp maande gelede gekoop om as 'n grap gerig op Andre Pistorius aan te trek by een van ons wyngilde vergaderings (hy trek altyd vreemde kleurvolle hemde aan); maar ek het nog nooit genoeg guts gehad om hierdie "gay-verby" hempie oor my kop te trek nie. Ek weet nie wat my gister besiel het nie, maar met daai hemp aan is ek selfs bang vir myself... En kyk hoe pragtig is my ver swanger vroutjie en my stoute seun!!! Ek is die gelukkigste man ter wêreld!!!
Die plek het die mooiste twee-slaapkamer eenhede wat uitkyk oor die damme en die diere; sal lekker wees om hier vir 'n naweek te kom rondlê.
Reinette en haar nuwe vriend Johan; hulle lyk baie gelukkig!!
En Ria kry 'n toekennig vir 15 jaar se harde werk; sonder haar sal die spul moeilik wees om bymekaar te hou; sy verdien elke bottel wyn wat in daai rooi en wit pyp weggesteek is!!


Baie lekker naweek so ver; en ons het die res van die gholf (laaste rondte) om na uit te sien!! En nog hitte, en nog reën.

29.11.10

Op 'n vuurwarm Sondag..

Poulter is witwarm in Dubai; eindig gelyk met Karlsson en gaan speel 'n play-off. Albei manne speel fantastiese gholf. En dan gebeur dit... Poulter laat val sy bal op sy merker; sy merker beweeg; hy noem dit aan die skeidsregter; hy kry een strafhou teen hom op die 3'e play-off gat; Karlsson wen op 'n manier wat hy self seker nie wou nie; maar 'n wen is 'n wen... En ek sit nog in die dak; bou my vloer; op my knieë..
Mamma se blomme hou nou al amper 'n week baie mooi!!

Hallo almal; so sê Nannies (Therese van langsaan). Sy is Jan-Hendrik se beste maatjie, en die laatlammetjie van langsaan. Ek dink sy soek die kuier en speel meer as JH; ek dink sy's vreeslik verveeld; en nou is daar ook nie meer skool om na uit te sien nie.. Gelukkig het JH 'n slip&slide by Conraad en Verushka gekry. Die hitte in Nelspruit regverdig die water wat so op die gras uitloop. Wonderlik om te sien hoe hierdie twee kinders letterlik ure lank op die gras, op die slip&slide, in die son en in die water gespeel het; sonder pretensies gelag en geskreeu; nes die ander buurkinders langsaan, en die ander buurkinders agter ons. Die somervakansie het wragtag aangebreek (dink ek terwyl ek met my gat sit en sweet in die dak; bou my vloer).



So werk die nail gun, my seun. Druk hierdie safety, dan daai sneller, en kyk hoe vlieg die spyker tot daar teen die aaanderkantste muur; en daar is baie spykers waar daai een vandaan kom..

Finale afmetings; finale spykers; meet en pas (dis nou al 10uur in die nag, en ek is moeg verby, op my seer rooi rou knieë)..
Sit en wys vir die wêreld my ongedetaileerde kant (agter)..

Goed gatvol maar tog nog vol grappies.

Die groot werk is vir eers verby - moet nog die venster inkry (venster massive), die plek uitverf, die elektrisiteit en ligte-ding doen, vloer seel en seel en seel, en ek wil aan die regter kant een laaang boekrak bou, want ek reken hierdie vertrek gaan 'n fantastiese studeerkamer / biblioteekkamer word eendag; Marinda sien dit in pienk en pers.. Daar moet nog een of twee gapings gevul word. Ek het reguit gewerk; die kamer is so effe skeef.

En ek sal nog 'n plan moet maak rondom die oondjie se koorsteen; maar dit op 'n latere geleentheid.

Eindproduk; mens kan nou eers sien hoe fantasties die vertrek gaan lyk; veral met 'n groot venster agter in die muur en 'n pragtige driehoek venster met loodwerk in die dak bo.

Ja; EK sal dit alles doen; en BOETA sal my help.

Ek het met groot moeite vanoggend opgestaan; my lyf was lanklaas so seer; voel of ek gister die hele dag teen Bosvark geskrum het.