22.2.10

Bonus naweek op Umhloti!

Uiteindelik die fotos van ons boot vakansie!! Ja - ek was besig ...

------------------------------
Al ooit gewonder wat maak sulke spore op die strand? Ek het altyd gedink dis 'n welbedeelde man wat rustig en kaal vroeg die oggend 'n entjie op die strand gaan stap - iemand soos ek. Ja - dit seker ook, maar wat van 'n laaitie met 'n speelding?
------------------------------
Die naweek voor die boot-trip het ons by DJ-hulle gaan crash tydens hulle vakansie in Umhloti. En wat 'n great bonus!! Die plek is pragtig en die weer was fantasties! Ons het ons gate uit geniet op die strand.

------------------------------
Umhloti is baie under-rated - almal wil altyd Balito toe gaan, maar ek dink ons volgende lang vakansie is reg hier. Pragtige swemarea, met 'n skoon strand en lekker eetplekke.

--------------------------------
Ek het so bietjie met my kamera gaan loop op die rotse. Pragtige goed afgeneem. vorige keer wat ek so op die rotste geklouter het (ek dink so in graad 2) het ek sleg seergekry en steke op my regter knieg gekry! Ek was maar baie versigtig, want ek weet ten minste nou al dat ek so effe lomp is op gladde klippe.




------------------------------
Die man het gesorg dat hy met 'n tan op die boot klim. Hy speel met enigiemand - en dra al die vreemde maatjies se speelgoed na ons toe. Maar ek het nou al begin afstomp en ophou om verskoning vra, want die helfte van sy speelgoed is nou weer onder hulle sambrele. Lyk my dis hoe ouerskap op die strand werk!


--------------------------------
Ons was nogal bly dat DJ en Elmien daar was om so bietjie te help. Die man is verskriklik woelig op die oomblik, en hy het nog nie geleer hoe om op een plek stil te sit nie.

'n Mens kan hom nogal omkoop met koeldrank, maar net vir enkele oomblikke...

---------------------------------
En hy is mal oor meganiese goed, veral gevaarlike goed soos roltrappe, hysbakke en Pa se boor!

------------------------------
Tydens hierdie vakansie (terwyl ons op die boot was) het DJ en Elmien vir hulle 'n splinternuwe blink, nogal windgat afslaankap gekoop. Ek kan net dink hoe smart my skoonsuster gaan lyk in daai swart kar!

12.2.10

Wat het ons gesien?

------------------------------
Kyk mooi in die rivierloop - twee renosters..


------------------------------
Een-of-ander houtkapper. Een van my kollegas het die naam genoem, maar ek kan dit nie onthou nie... "Iemand-se" houtkapper - vernoem na iemand.

------------------------------
Almal vra my vir die bewys, en hier is dit - twee luiperds in een boom met 'n kill...

------------------------------
Laaste maar nie die minste nie - 'n pragtige jongerige kameelperd.

11.2.10

Die naweek by Berg-en-Dal

Ons was laas naweek saam met Medi-clinic en die ander spesialiste in Berg-en-Dal, en ons het 'n heerlike tyd gehad. Die huisies is perfek vir ons grootte gesinnetjie. Ons het langs die grensdraad gebly; ek het langs 'n groot bul olifant geloop - ek en Jan-Hendrik aan die kant van die draad, en hy aan daai kant, totdat Jan-Hendrik vir hom begin lag het; toe steek ek vas.
Ek en my pragtige seun!!

En sy beeldskone Ma!!!! (sy't gaan draf; glo een-of-ander skuldgevoel...)

Jan-Hendrik het elke wakker oomblik gespeel - met die vrot maroelas, met maatjies heelwat ouer as hy, met die harige spinnekop...

Die vriendelikste kind in die wêreld!!

Kyk daai bekkie!
Ons het heerlik geswem; dit was vrek warm - geen dier of mens loop rond nie; selfs die sonbesies het maar laag gelê.. Jan-Hendrik en die twee Kuhn seuns het vir ure in die swembad deurgebring - ons moes net keer! Hy raak nou baie tuis in die (vlak) water.


Die mannetjie bly besig ..

Dis amper asof hy groot word en goed leer doen wat ons sekerlik nie vir hom geleer het nie. Hy hou 'n mens fyn dop, en hy probeer copy waar hy kan. Hy weet presies wat doen mens met die tuinvurkie - hy haal al die klein plantjies uit, en grou gate in die beddings. Hy kan ure lank homself besig hou in die tuin - maak sy eie speletjies en sing vir homself.

En as jy hom nie dophou nie dan teken hy op sy Pa se houtvloer. Sy eerste ware kunswerk - verewig digitaal, maar baie vinnig skoon gemaak!



1.2.10

Sondagmiddag all-you-can-eat buffet by Bundu

------------------------------
Gister het ons by Bundu Country Lodge gaan eet. Wat 'n heerlike buffet!! Ons was almal lekker (dik) ek meen versadig aan die einde van daai oorlog, en daar was niks wat ons nie probeer het nie. En Jan-Hendrik het homself vreeslik goed gedra; nogal die nageregte baie geniet; en hy het almal daar vermaak.


------------------------------
Ek stem saam, my seun - die kos was verbasend lekker...
------------------------------
Ek stem saam my seun - dit was nogal hartseer toe ons moes loop...

Die goggas by ons huis.

Die groot slakke is op 'n migrasie van soorte - teen my mure uit, en hulle los sulke meters-lange snotspore waar hulle gaan!
------------------------------
Hierdie is 'n baie klein spinnekoppie (ongeveer 8mm groot, insluitend pote), en ek kon nog nie sy naam opspoor nie. In die tuin by die studeerkamer se vensters. Ek het al baie mooi spinnekoppe en ander goggas in daai tuintjie raakgeloop.

------------------------------
En wat is hierdie? Nee, dis nie 'n slang se kop nie. Ook nie een of ander alien soos ET nie. Dit is 'n Maroelapit!

Hand-oog koordinasie ... met 'n hamer

Saterdagmiddag (afgelope naweek), en Jan-Hendrik smeek my so-te-sê om buite te gaan speel. Ek was so bietjie moeg want ek het die hele naweek die garage skoongemaak, en alles in die stoortjie ingetrek onder in die tuin. Nou is die garage weer netjies, skoon, en ek voel ek kan my gholfstokke daar los!
En daar is geen beter speletjie as om hand-oog koordinasie te oefen met 'n hammer en 'n spyker. Boeta is baie goed daarmee. En hy slaan homself nie raak nie (al draai die hammer 2cm voor sy voorkop).

Soms het jy nie 'n spyker nodig nie - die dekhout sal ook doen!
Check al sy tande!


Boeta dans!!

Kyk net hoe cute is dit!!! Hy is mal oor musiek. Hy ken nou al die verskil tussen pomusiek met 'n beat, en klassieke musiek (sonder die doef-doef beat). Hy dans wanneer hy popmusiek hoor, en hy gaan soek om te kyk of ouma by die klavier is as ek klassieke musiek op die hi-fi sit.

Daai eerste pleister-eina!

Boeta is deesdae baie spelerig, en hy dink ook sy eie speletjies uit (en ons almal moet saamspeel, al is die spasie min...) ----------------------------
Ons gee deesdae vir hom sy eie bord kos, en op 'n snaakse manier kry hy tog van die kos in sy mond. In ons huis is eettyd ook speeltyd! Maar dit is moeilik om te leer self eet... As hy maar net weet hoe moeilik Wiskunde gaan wees!



------------------------------
En hy raak baie maklik aan die slaap. Wanneer hy slaap is ook die enigste keer wat hy stil lê; dan doen ons goed soos naels knip, ens.

------------------------------
En die eerste ernstige sny! Op 'n skerp ding in een van die kaste in die kombuis waarin hy nie veronderstel was om te krap nie.


So word hy groot. Elke dag.